International
Trump-Poetin-beraad in gedrang terwyl Russe weer toeslaan─── 14:11 Wed, 22 Oct 2025

Die diplomatieke spanning tussen die VSA en Rusland het Woensdag (22/10) opnuut gestyg nadat pres. Donald Trump aangekondig het sy beplande beraad met pres. Wladimir Poetin in Boedapest is voorlopig opgeskort.
Hy wil nie ’n “vermorsde vergadering” hê nie, omdat Rusland herhaaldelik weier om ’n skietstaking aan die huidige frontlinies te oorweeg, sê Trump. Moskou se weiering ondermyn enige sinvolle gesprekke, berig BBC.
Die Kremlin het egter die opskorting ontken en volgehou dat voorbereidings vir die beraad voortgaan, hoewel geen datum nog vasgestel is nie.
Pres. Wolodimir Zelenski word Woensdag deur premier Jonas Gahr Støre van Noorweë verwelkom. Foto: X
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne verbind die opskorting direk met sy mislukte poging om Tomahawk-langafstandmissiele van die VSA te verkry. Toe daardie moontlikheid vervaag het, “het Rusland amper outomaties minder belang gestel in diplomasie”, het hy in Oslo gesê waar hy op besoek aan Noorweë is.
Trump raak ál meer gefrustreerd met Moskou se weiering om ’n skietstaking te aanvaar in die byna vier jaar lange oorlog in Oekraïne, nadat hy nie daarin kon slaag om Poetin te oortuig om sy eise te versag nie. Die twee leiers het laas in Augustus op ’n beraad in Alaska beraadslaag, sonder ’n deurbraak.
Trump het verlede week planne aangekondig vir ’n tweede rondte gesprekke in Boedapest. Deutsche Welle berig toe hy gevra is oor Trump se opmerkings, het Kremlin-woordvoerder Dmitri Peskof aan joernaliste gesê: “Niemand wil tyd mors nie – nie pres. Trump of pres. Poetin nie.”
Nuwe reeks aanvalle
Intussen het Rusland Woensdag opnuut ’n reeks missiel- en hommeltuig-aanvalle op Oekraïne geloods, wat wydverspreide skade in Kijif en Kharkif veroorsaak het. Altesaam 27 mense, onder wie kinders, is beseer toe ’n kleuterskool getref is.
In die dorp Pogrebi naby die hoofstad is ’n vrou, ’n ses maande oue baba en ’n 12-jarige meisie dood toe hul huis aan die brand geraak het. Nog vier sterftes is in die breër Kijif-streek bevestig.
Noodkragonderbrekings in gebiede
Die Oekraïense lugmag sê Rusland het 405 hommeltuie en 28 missiele afgevuur, waarvan 15 ballisties was. Ook energie-infrastruktuur is in die aanvalle geteiken, wat tot noodkragonderbrekings in verskeie gebiede gelei het.
Kort voor die aanvalle het Oekraïne bevestig dat hy ’n Russiese chemiese aanleg in die Briansk-streek suksesvol met Britse Storm Shadow-missiele aangeval het.
Die aanleg vervaardig onder meer plofstof en vuurpylbrandstof vir wapens wat teen Oekraïne gebruik word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh