International
Vredesooreenkoms dalk deurbraak in Gasa-oorlog─── 08:37 Thu, 09 Oct 2025

Pres. Donald Trump van Amerika sê Israel en Hamas het ingestem tot die eerste fase van sy voorgestelde vredesooreenkoms vir Gasa wat ’n moontlike keerpunt in die langdurige konflik kan inlui.
Die aanvanklike ooreenkoms behels die vrylating van Israeliese gyselaars en Palestynse gevangenes, die onttrekking van Israeliese magte uit Gasa, en die deurlaat van humanitêre hulp na die beleërde gebied. Indien Israel se kabinet die ooreenkoms formeel goedkeur, sal ’n skietstilstand na verwagting later Donderdag (9/10) in werking tree.
Israel se regering sal middagete (SA tyd) vergader om oor die ooreenkoms te stem. Amerika het aangedui alle oorblywende Israeliese gyselaars sal teen Maandag vrygelaat kan word, afhangende van finale reëlings.
Hoewel Hamas die ooreenkoms bevestig het, het ’n Palestynse bron aan die BBC gesê die groep het nog nie die finale lys van gevangenes ontvang wat Israel beplan om vry te laat in ruil nie.
Feesvieringe breek uit
Feesvieringe het in Gasa en oor Israel heen uitgebreek, veral onder gyselaars se families, ná intense onderhandelinge in Egipte wat die deurbraak moontlik gemaak het.
Benjamin Netanyahu, Israel se premier, het die ooreenkoms beskryf as “ ’n wonderlike dag” vir sy land, terwyl sy Britse ampsgenoot, Keir Starmer, dit ’n “oomblik van diep verligting” genoem het wat wêreldwyd gevoel sal word.
Tom Fletcher, die VN se koördineerder vir noodleniging, het die ooreenkoms ook verwelkom en dringende humanitêre optrede aangemoedig, berig Deutsche Welle. “Goeie nuus. Laat ons die gyselaars uitkry en hulp vinnig instuur.”
Aanvalle gaan voort
Hy het bevestig dat VN-spanne gemobiliseer is om hulp op grootskaalse vlak te lewer, mits veilige toegang verseker word.
Intussen het die Israeliese weermag Palestyne gewaarsku om nie noordwaarts na Gasastad terug te keer of die gebied te nader waar daar steeds soldate is nie. Die waarskuwing, op X uitgereik deur die Arabies-sprekende weermagwoordvoerder Avichay Adraee, het ure ná die aankondiging van die ooreenkoms verskyn.
Ondanks die ooreenkoms is voortgesette lugaanvalle steeds in die noorde van Gasa aangemeld.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.