International
Organisasie eis ‘aftrede’ van sokkerspan se gelukbringer-arend─── 14:21 Wed, 21 Oct 2026
’n Diereregte-organisasie dring daarop aan dat ’n Britse sokkerspan sy gelukbringer, ’n lewende Amerikaanse arend, onmiddellik laat aftree.
Die organisasie sê ’n “helder beligte stadion propvol luidrugtige ondersteuners is geen plek vir diere nie”. Peta (People for the Ethical Treatment of Animals) het die Londense span Crystal Palace versoek om op te hou om die arend Phoenix voor wedstryde op Selhurst Park in vertonings te gebruik en om nooit weer lewende diere as gelukbringers in te span nie.
Die Premierliga-span, wat sedert 1973 as die Eagles bekend staan, het in 2010 ’n lewende arend as deel van sy program op wedstryddae bekend gestel. Kayla, wat in 2020 dood is, het dié rol vir tien jaar vervul. Haar opvolger, Phoenix, het in Augustus 2024 haar buiging gemaak tydens ’n wedstryd teen West Ham, berig die BBC.
Peta sê voëls kan in ’n lawaaierige stadion “bang, gedisoriënteerd en paniekerig” raak, wat hulle én toeskouers in gevaar kan stel. Die gebruik van diere vir vertonings en vermaak ontneem hulle ook die geleentheid om hul natuurlike instinkte uit te leef. Dit kan tot “frustrasie en stres” lei, aangesien dié diere “mense normaalweg sou vermy”, sê die organisasie.
Peta het “gedetailleerde rekords” van voorvalle waarin lewende gelukbringers, waaronder voëls, beseer of dood is nadat hulle teen mure, vensters en balle vasgevlieg het. In ’n ander voorval het ’n valk sy kloue in ’n toeskouer se kopvel geslaan nadat hy op die man se kop geland het.
In 2017 is ’n ondersteuner van Charlton Athletic skuldig bevind aan ’n poging om Kayla te slaan tydens ’n Ligabeker-wedstryd twee jaar vantevore. Die hof het destyds gehoor dat die hanteerder, Chris Belsey, tydens die wedstryd met Kayla op sy voorarm om die Selhurst Park-speelveld gestap het.
Aanklaer Daniel Higgins het gesê “drie of vier ondersteuners het beledigings” na die twee geslinger. Een het oor die versperring geleun en “ ’n vuishou geslaan”. Dit het gelyk asof Kayla nie beseer was nie, maar weens haar delikate beenstuktuur kon haar bene maklik gebreek het.
‘Die klub het reeds Pete the Eagle om die skare op te sweep’
“Baie professionele sportspanne gebruik mense wat vrywillig as gelukbringers optree, en die klub het reeds Pete the Eagle om die skare op te sweep,” sê dr. Carys Bennett, Peta se senior bestuurder vir korporatiewe projekte. Sy verwys na die gelukbringer geklee in ’n soort arend-kostuum in die klere van die klub.
“Amerikaanse arende word algemeen as simbool van vryheid erken. Hulle verdien beter as om as blote vermaaklikheidsrekwisiete gebruik te word om die Eagles se ondersteuners te vermaak.”
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

