International
Demokratiese golf spoel oor VSA in historiese verkiesing─── 10:27 Wed, 04 Nov 2026
Die Demokrate het in die Amerikaanse middeltermynverkiesing beheer oor albei huise van die Kongres verower danksy geskiedkundige oorwinnings in tradisionele Republikeinse vestings wat wyd vertolk word as ’n verwerping van pres. Donald Trump se beleid
Kiesers se kommer oor lewenskoste, duur brandstof en die oorlog teen Iran het die uitslag beïnvloed. Die Demokratiese Party het meer as 20 Republikeinse setels in die Huis van Verteenwoordigers verower teen Woensdag 11:00 en die Republikeinse meerderheid in die Senaat beëindig.
Een van die merkwaardigste oorwinnings kom uit Michigan, waar Abdul El-Sayed (42) die Republikein Mike Rogers verslaan het. El-Sayed, ’n voormalige openbaregesondheidsamptenaar van Egiptiese herkoms, word die eerste Moslem wat tot die Senaat verkies is.
Sy veldtog is gekenmerk deur persoonlike aanvalle oor sy geloof, afkoms en standpunte oor Israel. Republikeine het hom onder meer sonder bewyse met Islamitiese ekstremisme verbind, terwyl misleidende plasings beweer het hy steun die invoering van die sjaria in Amerika.

Pres. Donald Trump erken die Demokratiese sukses, maar sê dis omdat hy nie self op die stembrief was nie. Skermgreep: X
Selfs sy voormalige teenstander in die Demokratiese voorverkiesing, Haley Stevens, het kort voor die verkiesing steun aan Rogers toegesê. El-Sayed het sy oorwinning beskryf as ’n keuse vir hoop bo haat, terwyl hy belowe het om groot maatskappye en miljardêrs se politieke invloed teen te staan.
In Texas het James Talarico vir Ken Paxton verslaan en sodoende die eerste Demokraat sedert 1988 geword wat uit dié staat tot die Senaat verkies word. Dit is ’n groot terugslag vir Republikeine in ’n staat wat hulle dekades lank oorheers.
Talarico, wat sy progressiewe politieke standpunte dikwels met sy Christelike geloof verbind, het sy veldtog met die Bybelse verhaal van Dawid en Goliat vergelyk. Hy sê die verkiesing wys gewone kiesers kan die invloed van miljardêrs, gevestigde politici en magtige belangegroepe oorkom.

Troy Jackson bedank ondersteuners wat hom in Maine gehelp het om die Republikein Susan Collins te verslaan. Foto: X
Paxton het sy nederlaag erken en Talarico gelukgewens. In sy oorwinningstoespraak het Talarico gewaarsku dat Amerika se ekonomiese en politieke stelsels ingrypende verandering nodig het, en dat verdeeldheid tussen gewone mense die magtigste groepe bevoordeel.
Nog ’n opspraakwekkende uitslag is in Maine aangeteken, waar die Demokraat Troy Jackson die Republikeinse senator Susan Collins verslaan het. Collins, ’n jarelange senator wat probeer het om haar van Trump te distansieer, het haar nederlaag erken en ’n ordelike oorgang belowe.
Volgens CBS News se uitgangspeilings het die meeste kiesers in Maine gemeen Collins staan te na aan Trump. Sowat 69% het gesê Trump se invoertariewe het die staat se ekonomie benadeel, terwyl kommer oor lewenskoste veral vrouekiesers na Jackson laat swaai het.
Trump het die Demokrate gelukgewens en gesê hy aanvaar die uitslag, maar ontken dat dit ’n persoonlike verwerping is. Hy meen Republikeine sou oorweldigend gewen het indien sy naam op die stembrief was, hoewel hy erken dat die oorlog teen Iran en hoër brandstofpryse hulle benadeel het.
Die president sê hy is bereid om met die Demokratiese meerderheid saam te werk, maar beklemtoon dat hy wetgewing kan veto. Vanaf Januarie kan die Demokrate sy beleid en aanstellings veel strenger ondersoek, hoewel hulle waarskynlik nie genoeg steun sal hê om sy veto’s te oorheers nie.
BRONNE: Reuters, CBS News, Fox News.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

