On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Trump-mediasteunpilaar erken haat teen hom kelder Republikeine

───   14:47 Wed, 04 Nov 2026

Trump-mediasteunpilaar erken haat teen hom kelder Republikeine | News Article
Sean Hannity is ook ’n Fox News-aanbieder. Foto: Skermgreep

Die omvang van die openbare teenstand teen Donald Trump het ’n belangrike rol gespeel in die Republikeine se swaar nederlaag in die Amerikaanse middeltermynverkiesing.

Sean Hannity, Fox News-aanbieder en een van die Amerikaanse president se prominentste ondersteuners in konserwatiewe mediakringe, het erken dat die “haat” teen Trump kiesers gemotiveer het om teen die Republikeine te stem.

“Haat is ’n geweldige motiveerder,” het Hannity op Fox News gesê tydens ’n bespreking van die verkiesingsuitslae. Hy het bygevoeg die vyandigheid teenoor Trump is ongekend en hy het nog nooit iets soortgelyks gesien nie.

Die erkenning kom te midde van ’n groot oorwinning vir die Demokrate, wat beheer oor albei kamers van die Amerikaanse Kongres oorgeneem het, berig The Guardian. Die uitslag is ’n ernstige terugslag vir Trump en die Republikeinse Party, wat nou met ’n Demokratiese meerderheid in die Kongres sal moet saamwerk.

Adam Hamilton is die eerste Demokraat sedert 1932 wat Kansas in die Senaat sal verteenwoordig. Foto: X

Die Demokrate het volgens die jongste uitslae 228 setels in die Huis van Verteenwoordigers verower, waar 218 vir ’n meerderheid nodig is. In die Senaat het hulle 54 setels behaal, drie meer as die 51 wat vir beheer benodig word. 

Die party het minstens sewe Senaatsetels in Republikeinse vestings en betwiste deelstate gewen, waaronder Kansas, Iowa, Texas, Ohio, Maine, Noord-Carolina en Suid-Carolina. In die Huis het hulle meer as twee dosyn setels van die Republikeine afgeneem.

Verskeie historiese oorwinnings het die Demokrate se sukses gekenmerk. Abdul El-Sayed, ’n Egipties-Amerikaanse dokter, het in Michigan die eerste Moslem geword wat tot die Amerikaanse Senaat verkies is. James Talarico het die eerste Demokraat in 38 jaar geword wat ’n Senaatsetel in Texas verower het, terwyl Adam Hamilton die eerste Demokraat sedert 1932 is wat Kansas in die Senaat sal verteenwoordig.

In Nevada het die Demokraat Aaron Ford die Republikeinse goewerneur, Joe Lombardo, verslaan en die deelstaat se eerste swart goewerneur geword.

Trump het aan The New York Times gesê hy is “absoluut bereid om die uitslae te aanvaar” en dat hy daarna uitsien om met die Demokrate saam te werk.

Oudpresident Barack Obama het die uitslag verwelkom as ’n duidelike verwerping van verdelende politiek. Hy sê Amerikaners wil leiers hê wat mense verenig en praktiese oplossings bied.

Hannity se opmerkings dui daarop dat selfs binne Trump se eie ondersteunerskringe die politieke koste van die president se polariserende styl erken word.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.