Local News
Parys-moorde: Twee boere se borgtogaansoek hervat Donderdag─── DANE BEISHEIM 06:54 Wed, 09 Mar 2016

Van links Gert Boeta van der Westhuizen, Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr., Anton Loggenberg en Henk Prinsloo/OFM-nuus
Parys - Die borgtogaansoek van twee Parys-boere wat in hegtenis geneem is in verband met die beweerde moord op twee vermeende plaasaanvallers, hervat môre in die plaaslike landdroshof.
Fanie Oosthuizen (42) en Wian van der Westhuizen (21) is die sesde en sewende beskuldigdes in die moordverhoor van Samuel Tjixa en Simon Jubeba.
Landdros Leshnee Pillay het die saak Dinsdag uitgestel nadat die Staat sy saak afgehandel het. Die verdediging sal Donderdag voortgaan met sy saak.
Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie glo doodgeslaan deur ’n groep boere wat hulle verdink het van die plaasaanval op Loedie van der Westhuizen op sy plaas buite Parys.
Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr., Anton Loggerenberg en Boeta van der Westhuizen, Loedie se seun, is aanvanklik in hegtenis geneem en op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. ‘n Polisiebeampte, kaptein Henk Prinsloo, is op 11 Februarie ook van die moorde aangekla en is ook op borgtog vrygelaat. Die verhoor hervat op 15 April.
Intussen is Boeta weer in hegtenis geneem ná beweerde dreigemente teen polisielede. Hy word van intimidasie aangekla en sal Donderdag weer in die hof verskyn.
OFM-nuus