Local News
Provinsies sal moet verduidelik oor besteding van staatstoelae─── CATHY DLODLO 07:43 Sun, 17 Apr 2016

Kaapstad -Die provinsiale tesourie van die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes sal binnekort in die parlement verduidelikings moet verskaf oor die swak bestedingskoers van voorwaardelike staatstoelae vir onder meer infrastruktuur, paaie en gesondheid.
Dit volg nadat die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor begrotingsbesteding dié kwessie verlede week bespreek het.
Die Nasionale Tesourie se direkteur: provinsiale begrotings, Emmanuel Pillay, sê verskeie provinsies het nie die voorgeskrewe 75% van hul toelae bestee nie.
Hy sê die laagste bestedingskoers van vervoertoelae was in Noordwes en KwaZulu-Natal.
Verskeie provinsies het ook swak gevaar met die besteding van die infrastruktuurtoelaes.
Hy sê die redes hiervoor is onder meer swak beplanning, tenderprosedure en kontrakteurs wat nie na wense gemonitor word nie.
Die komitee het besluit dat die tesouriers van die verskeie provinsies hul bestedingskoers moet kom verduidelik. Daarna gaan ‘n verslag hieroor, saam met ‘n vergelyking van die bestedingskoers oor verskeie boekjare, in die parlement ter tafel gelê word.
OFM-nuus