Local News
Grusame toneel op VS-plaas ontdek─── CATHY DLODLO 10:52 Mon, 25 Apr 2016

Gallo images
Smithfield - 'n Man (28) is gister op die plaas Haasfontein naby Smithfield in hegtenis geneem weens die beweerde moord op sy vriendin.
Vrystaat polisiewoordvoerder, Yanga Ngcukana, sê die 32-jarige vrou is met 'n ysterpyp en houtpaal aangerand. Haar tweejarige seuntjie was by haar toe haar liggaam gevind is. Hy is as voorsorgmaatreël na die hospitaal geneem.
Volgens Ngcukana het die polisie gistermiddag omstreeks 17:30 'n anonieme oproep ontvang waartydens hulle ingelig is van 'n vermeende voorval van huishoudelike geweld. Hy sê die verdagte is kort daarna aangekeer toe hy na sy huis onderweg was.
Ngcukana sê die man sal môre in die landdroshof op Smithfield verskyn op aanklag van moord.
OFM-nuus