Local News
NWU wil bekostigbare kunsledemate vervaardig─── DANE BEISHEIM 08:12 Mon, 20 Mar 2017

Potchefstroom - Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ingenieurswese is besig met baanbrekerswerk en poog om prostetiese ledemate te vervaardig sodat dit teen ’n fraksie van die tradisionele prys aangebied kan word.
Om ‘n ledemaat te verloor is ‘n traumatiese ervaring en dit gaan dikwels gepaard met astronomiese mediese rekenings.
CP Kloppers, ‘n dosent aan die Skool vir Meganiese Ingenieurswese en projekbestuurder, sê die NWU beskik oor ’n ultramoderne en gesofistikeerde 3D-drukker van byna R2,5 miljoen.
Kloppers en ’n meestersgraadstudent, Jako van Rooyen, wil nou ’n volwaardige prostetiese arm ontwerp en met behulp van die 3D-drukker, ’n nuwe arm van plastiek vervaardig. “Die voordeel van ‘n 3D-gedrukte prostese is dat dit gedoen kan word teen ’n fraksie van die koste en ’n fraksie van die tyd. Dit kan ook baie maklik aangepas word soos jou liggaam aanpas deur die jare. Ons doel vir hierdie jaar is om ons eerste drie bene te kan vervaardig en te kan toets,” voeg Kloppers by.
CP het met Theunis Nel, bekende TV-aanbieder van die motorfietsprogram Woema, wat in 2014 in ‘n baie ernstige motorfietsongeluk betrokke was, in verbinding getree. Theunis se beserings was van só aard dat sy regterarm onder andere geamputeer moes word. “Ek en Theunis het om ‘n tafel gesit en oor ons inisiatief om prostetiese ledemate te vervaardig gesels. Theunis het dit baie goed ontvang en ek het daar en dan aangebied om vir hom ‘n prostetiese arm as ‘n proefprojek te bou.”
OFM-nuus