On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Vrystaat-skole kry uitstaande subsidies, #SAOU verheug

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:41 Mon, 21 Aug 2017

Vrystaat-skole kry uitstaande subsidies, #SAOU verheug  | News Article

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat sê dit is goed dat die provinsiale onderwysdepartement uitstaande subsidies aan openbare skole begin betaal het.


Die Provinsiale Sekretaris van die SAOU, Reniël Lodewyk, sê die SAOU het verlede Woensdag talle oproepe ontvang waarin skole aangedui het die departement het wel betalings aan hulle gedoen.

Dit kom nadat die SAOU op 10 Augustus 'n amptelike skrywe aan die LUR van Onderwys, Tate Makgoe, en die hoof van onderwys, Tsoarelo Malakoane, gestuur het. Daarin is die departement versoek om binne sewe dae die SAOU skriftelik te laat weet wanneer die uitstaande subsidies betaal sou word. Lodewyk sê die departement het nie op dié skrywe gereageer nie, maar sekere skole het die SAOU verlede week ingelig dat hulle hul subsidies ontvang het.

Hy sê daar is egter skole wat nog geen subsidies ontvang het nie. Die SAOU gaan dié kwessie vandag dringend met Malakoane opneem. Die departement moet verduidelik waarom sekere skole in sekere streke, stede en dorpe subsidies ontvang het, terwyl daar ander skole is wat nog nie subsidies ontvang het nie.

Volgens hom hou die nie-betaling van die subsidies negatiewe gevolge vir openbare skole in. Hy sê in die onderwysstelsel word betalings deur die department voor 15 Mei en 15 November jaarliks gedoen, maar daar is in die Vrystaat ooreengekom dat ‘n deel van die subsidies kwartaalliks betaal word. Die geld word aangewend om leer- en onderrig-materiaal aan te koop. Basiese dienste soos water en elektrisiteit wat aan skole gelewer word, se rekeninge word ook met die geld vereffen. Lodewyk sê daar is reeds skole wat nie hul huidige rekenings kan betaal nie en boonop ook nie sonder die geld leermateriaal kan aankoop nie. Openbare skole kan eenvoudig nie funksioneer sonder die subsidies wat hulle jaarliks van die departement ontvang nie, sê Lodewyk.

Sekere van dié skole aan wie die departement nog nie subsidies vir die jaar betaal het nie, hef nie skoolfooie nie en maak hoofsaaklik staat op die subsidies.

“Dit is van kardinale belang dat skole in die laaste pylvak moet voortgaan met die baie belangrike leer-en-onderrigtyd.” Skole en gemeenskappe kan nie meer onder druk geplaas word nie, voeg Lodewyk by.

Die departement het op 2 Augustus 'n gewraakte omsendbrief aan skole in sy vyf onderwysdistrikte gestuur en belanghebbendes in kennis gestel dat die subsidies nie betyds betaal kan word nie weens "onvoorsiene omstandighede". In die brief is skoolhoofde, beheerliggame en distriksdirekteure versoek om, indien moontlik, alternatiewe reëlings met hul onderskeie krediteure te tref.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.