On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Local News

Goudveld-betogings: OFM-joernaliste se gesteelde goedere opgespoor

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:09 Thu, 12 Oct 2017

Goudveld-betogings: OFM-joernaliste se gesteelde goedere opgespoor | News Article
Josca Human en Mark Steenbok

Van die gesteelde toerusting en persoonlike besittings van die twee OFM-nuusverslaggewers wat aangeval en beroof is tydens betogings in Thabong, Welkom, is teruggevind en by die polisiekantoor ingehandig.


Dit kom nadat Mark Steenbok en Josca Human in die OFM-nuusmotor Maandag deur 'n groep betogers aangeval is en daarin kon slaag om weg te jaag. Die bestuur van OFM-nuus het gemeenskapleiers en ander betrokkenes kort ná die voorval ontmoet in 'n poging om die booswigte op te spoor en die gesteelde goedere te probeer terugkry.

OFM-nuus het betroubaar verneem dat sommige van die gesteelde goedere met behulp van die gemeenskap opgespoor is. Dit is nog onbekend of skuldiges uitgelewer sal word.

Die joernaliste sê ‘n man, vermoedelik een van die betogers, het met hul aankoms in Thabong op die motor afgestorm het en die motorsleutel deur ‘n oop motorruit gevat. In ‘n oogwink het nog betogers op die motor toegesak. Hulle wou die joernaliste uit die motor dwing, maar kon nie daarin slaag nie omdat Steenbok en Human se veiligheidsgordels vasgegespe was.

Die booswigte het die motor se deure en kattebak oopgemaak op soek na waardevolle items. Kameratoerusting, ‘n bandopnemer, selfone en Human se handsak is gesteel. Steenbok kon in die proses daarin slaag om die motorsleutels terug te gryp en kon na die naaste polisiekantoor jaag.

'n Passasiersbus van ‘n bekende nasionale maatskappy is Maandagaand op die R30 by Allanridge naby Welkom deur betogers aan die brand gesteek. 'n Polisievoertuig is ook beskadig toe dit onder meer met klippe bestook is.

Betogings het Maandagoggend uitgebreek toe ontevredenes, waaronder skoolkinders, paaie by Thabong met brandende bande, klippe en ander voorwerpe soos boomstompe versper het. Hulle is na bewering ontevrede oor té min werksgeleenthede by myne in die Goudveld.

Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê dié betogings het later na Odendaalsrus en die middestad van Welkom versprei. Verskeie buitelanders se winkels in Thabong en Odendaalsrus is geplunder, terwyl winkeleienaars in Welkom noodgedwonge hulle deure moes sluit.

Betogers het Dinsdagaand voortgegaan en verkeer op die R30 ontwrig. Dié passasiersbus is omstreeks 22:00 op die R30 voorgekeer en toe aan die brand gesteek.

Volgens Makhele het passasiers die bus vinnig ontruim. Sommiges het ligte beserings opgedoen nadat hulle glo deur die betogers rondgestamp en beroof is. Van die passasiers het verklarings by die Allanridge-polisiekantoor afgelê.

Intussen sê Makhele meer as sestig mense, waaronder minderjariges, is vandeesweek aangekeer tydens hierdie betogings.

Hulle sal na verwagting weer volgende week in die hof verskyn op aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. Die minderjariges onder die aangeklaagdes is in die sorg van hul ouers geplaas terwyl die volwasse verdagtes in aanhouding bly.

Betogings het Maandag in die Matjhabeng-distrik uitgebreek. Thabong, Welkom, Allanridge, Odendaalsrus, Virginia en Bronville is geraak. 'n Satelliet-polisiekantoor het ook in die slag gebly. Nog 11 betogers is in Odendaalsrus in hegtenis geneem. Hulle verskyn môre in die plaaslike landdroshof op 'n aanklag van openbare geweld.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.