On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

'Bloem se Biker Boys' spog met ysterperd 'van Bo' - VIDEO, FOTO's

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 17:30 Fri, 13 Apr 2018

'Bloem se Biker Boys' spog met ysterperd 'van Bo' - VIDEO, FOTO's | News Article
PHOTO: Corné Greyvenstein

Dit gons in motorfietsryers se kringe oor hoe die gesogte Valentino Rossi Aprillia-motorfiets so te sê uit die hemel vir ‘n Bloemfonteinse straatbewoner geval het.


Marius en Martin hou vol dat dié spoggerige ysterperd ‘n geskenk van Bo is nadat Marius deur ‘n motoris raakgery is en ‘n eis teen die Padongelukfonds heelwat later eers uitbetaal het.

“ ’n Kar het hom gestrike. Hy het lánk gewag," vertel Martin. "Ek gaan nie vloek nie… ek gaan my woorde sluk en net sê hy het lánk gewag. Toe sit ons eendag hand in hand en ek sê ‘Here, weet U wat? U weet hoe hardloop hierdie man deur? U weet ek lewe ook op straat?’ God antwoord my toe terug: ‘Martin, ek weet hoe lank lewe jy al op straat. Ek gaan hom help.’ Die volgende oggend is Marius se geld toe inbetaal.”

Marius vertel van die ongeluk waarin ‘n bakkie hom omgery het. Hy het verskeie beserings opgedoen en was agt maande lank in die hospitaal en ses maande in ‘n rolstoel. Ná ‘n baie lang wag het die Padongelukfonds die eerste uitbetaling gedoen. Toe Marius by die motorfietshandelaar instap, het hy dadelik sy droom-motorfiets gesien. “Eerste ding toe ek instap, toe sien ek hierdie baby, toe sê ek: ‘Dis myne.’” Dié Valentino Rossi Aprillia is na bewering een van slegs tien in Suid-Afrika.

Marius hou voet by stuk dat hy nie van plan is om die motorfiets te verkoop nie nadat hy verskeie aanbiedinge ontvang het. “Dis in my bloed, dis in my hartklop. Dis my alles. Ek is ‘n biker in my hart en dit was al jare lank ‘n droom.”

Ná die uitbetaling het Marius ook ‘n Suzuki-motorfiets, ‘n bakkie, en gereedskap gekoop, “Ek is ‘n boilermaker, maar kry nie nou werk nie.”

Bloemfonteiners het dié twee vriendelike “broers” met die blou oë al waarskynlik in Tweedelaan leer ken. Behalwe vir die enkelinge wat vra hoe ‘n “boemelaar dan so ‘n bike kan koop?”, is die stad se mense baie goed vir hulle. ‘n Vername vrou in die stad wie se vyf seuns ‘n reuse-onderneming bedryf, bring weekliks vir hulle ‘n gekookte bord kos. Dan is daar die prokureur wat eenkeer ‘n maand R400 kontant en ‘n pak vleis aflaai, met: ”Geniet julle naweek.” En snags slaap hulle op ‘n rooi stoep.


Hulle was van plan om Marius se broer in Kaapstad te gaan besoek wat hy in 2011 laas gesien het, maar hulle is van ‘n valhelm en hul baadjies beroof. Vir nou wil dié twee nie as Bloemfontein se Boemelaars bekend staan nie, maar eerder as Bloem se Biker Boys. Sodra iemand kan help met baadjies en ‘n valhelm, saal hulle die spog-ysterperd op en vat die pad suid.

“As ek op die bike klim, is ek vry van hierdie wêreld,” sluit Martin af.




OFM-nuus/Corné Greyvenstein en Mark Steenbok

(OFM-nuus neem kennis van die foutiewe bewering dat dit ‘n Valentino Rossi Aprillia is. Dit is twee keer deur ‘n handelaar aan OFM-nuus bevestig, maar Bloemfonteinse motorfietskenners bevestig dat dit ‘n Yamaha R6 Rossi-replika is, wat glo ook 'n versamelaarsitem is.)

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.