Local News
Legendariese Piet Els sterf maande ná aanval─── MARK STEENBOK 15:43 Tue, 15 May 2018
Die polisie het bevestig dat ‘n aanklagte van moord nou by die klagstaat bygevoeg gaan word nadat ‘n bekende sakeman van Kimberley gister in ‘n plaaslike hospitaal dood is.
MediClinic Gariep se woordvoerder, Denise Coetzee, het by navraag bevestig dat Piet Els gisteraand in die intensiewesorgeenheid oorlede is. Els was reeds vir 111 dae gehospitaliseer nadat hy en sy lewensmaat, Rikkie Alsemgeest, ‘n gru-aanval op ‘n plaashuis buite Kimberley in Januarie oorleef het.
Alsemgeest is reeds uit die hospitaal ontslaan nadat albei veelvuldige beserings tydens die aanval opgedoen het.
Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê drie mans het reeds in die hof verskyn in verband met die aanval en sal na verwagting weer op 16 Mei voorkom. ‘n 19-jarige vrou het ook verlede week in die hof verskyn nadat sy in die besit van gesteelde goedere gevind is. Die ondersoek in die saak duur voort.
OFM-nuus
