Local News
OFM Senior Joernalis vertel van waterhel buite Bloemfontein─── 12:21 Wed, 08 Jun 2011

Owen Kock
Bloemfontein. – “Ek weet nie of ek moet huil, of lag of net moet drink nie.”
Met die woorde is die media vanoggend begroet deur ‘n boer van Roodewal, Edwil Cronje. Hy meen hy het in die omgewing van R1 miljoen se skade gelei na swaar reen wat deur die nag uitgesak het, oorstromings wat in die laat tagtigs laas gesien is, veroorsaak het.
Hy boer ondermeer met vark en skaap, en het heelwat van sy diere in die oorstromings verloor en daarby was trekker sommer nog diep in die water toe die media vertrek.
Die bakkie waarop hy van sy kleiner varkies en skape gelaai het, moes hy in die vloedwater los en homself na veiligheid haas. Die bakkie is net voor 11h00 met ‘n stookskraper uit die waterhel gered, maar ‘n skaap en ‘n hele paar speenvarkies het in die slag gebly.
“Moet asseblief nie fotos van my dooie varkies neem nie,” het ‘n erg onstelde Cronje gevra toe die bakkie tot stilstand kom wat deur die stootskraper uitgesleep is.
Polisieduikers het op ‘n rubberboot, ‘n paar mense wat in bome vashekeer was na veiligheid gebring en selfs ‘n baba en jong kind was onder die 16 mense wat gered is tydens die operasie vanoggend. Hulle is almal in die plaaslike NG Kerk gehuisves en behandel deur mediese personeel op die toneel.
Die polisie het ook ‘n jetski gebruik om vas te stel waar mense vasgekeer is, so hoog was die water op die plaas, wat gewoonlik landerye is.
Die enigste aanduiding dat dit ooit ‘n landery was, is die sproeiers se koppe wat net-net bo die water uitsteek.
“Die versekering betaal nie uit as lewende hawe omkom nie, dis nou ongelukkig so, maar ek het groot skade gelei, alles is weg en of nat. Van my varke is deur die stroom meegesleur. Ek reeds vroeg oggend my kroegman laat weet dat hy die kroeg moet oopmaak en alle diere van my daar moet moet huisves,” het Cronje gese.
“As mense varke sien rondryf en nie weet wie sin dit is nie, dit sal myne wees,” het Cronje deur die harsteer geskerts.
Hy self was op die stootskraper toe sy bakkie uitgesleep is met van die varke en skape agterop. Hy het net sy warm baadjie uitgetrek om met die reddings poging van sy diere te help.
“Iets moet darem droogbly, maar ek gaan nou die water in om te help met my diere,” was sy woorde toe hy gevra is hoekom hy uittrek in die snerpende koue.
Hy was duidelik verlig toe sy bakkie (onder water) met sy diere na veiligheid gebring is, maar die teleurstelling oor van sy dooie speenvarkies was duidelik op sy gesig sigbaar.
Hoe die boere van Roodewal van die vloede gaan herstel is ‘n goeie vraag, maar in die stadium blyk daar min antwoorde te wees.