On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

News Talk

Dít is amper so erg soos die ISIS-terroriste

───   14:12 Tue, 17 Nov 2015

Dít is amper so erg soos die ISIS-terroriste | News Article
Teen hierdie tyd is die hele wêreld sekerlik al bewus van die tragiese gebeure in Frankryk. Elke keer nog wat daar so 'n terreuraanval in die verlede was, het dit my geweldig ontstel, maar hierdie spesifieke geval tref sielkundig baie naby omdat ek self 'n aanhanger van die betrokke groep is wat by die konsertsaal opgetree het verlede Vrydagaand toe terroriste op die skare losgebrand het. As ek ’n Parysenaar was, het ekvir seker Eagles Of Death Metal by die Bataclan gaan kyk. Ek sou daar gewees het. Die mense wat na hul opvoering gaan kyk het, is MY-mense! Hulle is vriende. Minnaars. Familie.
 
Ek het tesame met rofweg 25 000 ander my-mense na Eagles Of Death Metal gaan kyk toe hulle so paar jaar gelede in SA by Oppikoppi opgetree het. Dit was een van die hoogtepunte van my naweek en ook my lewe gewees om hierdie groep talentvolle Amerikaners te kon sien optree. Hul lewendige opvoering is ’n tentoonstelling van onbeheersde vreugde en ’n viering van die lewe in al sy legio fasette. Dit is juis daarom 'n laakbare en lafhartige ding om mense aan te val terwyl hulle besig is om na hierdie tipe musiek te luister - sulke opvoerings is soos my kerk, en dit is ’n plek waar ek nog altyd veilig tussen my geesgenote gevoel het. Nou word daardie geborgenheid bedreig.
 
Wat amper meer ontstellend is vir my, is die wyse waarop sekere individue hierdie tragedie gebruik om hul eie agendas op sosiale media te dryf. Male sonder tal het ek die afgelope paar dae stellings soos die volgende op Facebook gelees: “As meer mense vir Suid-Afrika gebid het soos wat hulle nou vir Frankryk doen, het dit al baie beter gegaan in ons land.” Wie is hierdie mense om te sê hoe ek mag en nie mag rou nie? Nie net is hierdie ’n lelike en verwronge uitkyk op hoe geloof skynbaar werk nie, maar dit is ook ’n skokkende tentoonstelling van ’n amper psigopatiese tekort aan empatie met ons medemens. Dit is amper so erg soos die ISIS-terroriste se interpretasie van hul geloof.
 
En dit bring my by my volgende punt: Ek het ook die afgelope paar dae geweldig baie haat teenoor Islam op die internet bespied. Wat hierdie kommentators nie besef nie, is dat verreweg die meerderheid van Muslims nie ISIS se radikale en onakkurate interpretasie van Islam ondersteun nie. Trouens, verreweg die meerderheid van gewone Muslims veroordeel ISIS se optrede ten sterkste. Persone wat dus hierdie hartseer gebeurtenis misbruik om net verdere haat teenoor ander mense te versprei, is besig om die punt lelik te mis.
 
En die punt is m.i. die volgende: Liefde is die enigste salf aan hierdie situasie te smeer. Trouens, gebare van liefde is die enigste ding wat na my mening nog altyd werklike en betekenisvolle sosiale verandering kon meebring. Dis wat die Beatles my geleer het met hul liedjie All you need is love. Sinici sal dink ek is naïef, maar solank as wat ek die vermoë het om musiek te luister en te waardeer, sal ek liefde uitstraal. Selfs, al voel ek nie tans so nie, vir die persone wat hierdie ding gedoen het. Hulle kort al ons liefde. Die hele wêreld kort al ons liefde.
 
NS. As die groep Eagles Of Death Metal se naam jou effe koud laat of verwar, gaan lees gerus hier om te sien dat hulle eintlik hul tong ferm in hul kies het. Tipies kan terroriste nie ironie en humor raaksien nie.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.