Agriculture
Vloede steeds in Noord-Kaap gevrees─── 13:50 Fri, 14 Mar 2014

Dirk Kok - Agri-Noord-Kaap se hoofbestuurder, Johan van Rensburg, sê met die Vaalrivier-stelsel wat vol is, die Oranjerivier-stelsel wat bykans vol is en reën wat steeds val, word moontlike oorstromings in die Noord-Kaap 'n al hoe groter bedreiging.
Dié landbou-organisasie het vroeër in die week op 'n provinsiale rampbestuurvergadering gevra dat meer water dringend uit die Bloemhof- en Van Der Kloofdam gelaat sal word om oorstromings te keer. Die laer Vaal-gebied by Douglas kan slegs 800 kubieke meter per sekonde hanteer voordat die rivier oor sy walle stoot.
Die departement van waterwese het vanoggend gesê die Bloemhofdam sal waarskynlik teen môre vol wees en die uitvloei sal waarskynlik vandag tot 700 kubieke meter per sekonde verhoog word om struktuurskade aan die dam te keer. Inwoners stroomaf langs die Vaalrivier sal moontlik hul huise moet ontruim. Die departement sê water wat uit die Bloemhofdam uitgelaat word, bereik reeds die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier by Douglas.
Van Rensburg sê nog 'n rampbestuurvergadering kan vanmiddag in die Noord-Kaap gehou word.