Agriculture
Landbounuus-podcast: Bek-en-klouseer, veevoer word nou voorsien aan Limpopo-dorpies─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:23 Tue, 22 Jan 2019
Polisiesigbaarheid in die Vhembe-siekte beheergebied is in die verre noordelike deel van Limpopo verhoog.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) se woordvoerder, Khaye Nkwanyana, sê dit is deur 'n tegniese taakspan besluit wat aandag aan siektebeheer-maatreëls skenk. Nkwanyana sê polisie betrokkenheid is belangrik om te verhoed dat diere met gesplete hoewe in die gebied wat onder kwarantyn is verskuif word.
Volgens hom het die komitee ook besluit om veevoer aan betrokke dorpies te verskaf. Dit sodat diere nie ondervoed is nie - omdat hulle nie verskuif mag word tussen weidings-gebiede nie. Dié tegniese taakspan is een van drie taakspanne wat saamgestel is. Dit sluit in 'n taakspan wat verantwoordelik is vir kommunikasie van inligting aan die publiek en die eienaars van lewende hawe. Nog 'n taakspan is verantwoordelik daarvoor om met Suid-Afrika se handels-vennote te kommunikeer en hulle gerus te stel dat Suid-Afrikaanse produkte veilig is.
Aannames van 'n groot oorskot bees-en-skaapvleis in die Suid-Afrikaanse mark weens uitvoer wat tydelik gestaak is ná die uitbreking van bek-en-klouseer in die Vhembe-distrik in Limpopo, is ongegrond. Só meen die voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), Koos van der Ryst, nadat Suid-Afrika deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid, van sy bek-en-klouseer vrye status gestroop is.
Hy sê slegs 'n klein persentasie van Suid-Afrikaanse bees- en skaapvleis word uitgevoer.
Meer as 16, 000 skaapvelle en meer as 8,000 ton kg huide is verlede jaar vanaf Januarie tot Desember uitgevoer. Uitvoer word nou tydelik gestaak totdat onderhandelinge tussen Suid-Afrika en sy uitvoerlande suksesvol is. Volgens Van der Ryst kan die plaaslike verbruikersprys intussen ietwat sywaarts of selfs afwaarts beweeg, maar produsente bly steeds onder druk.
'n Groep wat ten doel het om boere op die lange duur in die bedryf en veral op hul plase te hou is in die Bultfontein-distrik in die Vrystaat op die been gebring. Andries du Plessis, lid van die Bultfontein-bewusmakingskomitee se Toekoms in Aksie-inisiatief, sê daar is al 200 boere wat aangesluit het. Dit sluit boere van ander distrikte en provinsies soos Noordwes in.
OFM-nuus
