Agriculture
Landbounuus-podcast: Betrokkenheid by georganiseerde landbou 'belangrik'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:18 Wed, 23 Jan 2019
Dit is belangrik dat boere deel vorm van georganiseerde landboustrukture in Suid-Afrika, sodat 'n veilige en stabiele ekonomiese omgewing beding kan word.
Die aanslag teen boere kom uit verskeie rigtings en dit is juis daarom noodsaaklik dat daar in dié uitdagende tye hande gevat word en deur 'n standvastige georganiseerde struktuur verteenwoordig word. Só meen Vrystaat Landbou (VL) se hoof uitvoerende beampte, Gerhard Kriel, nadat enkelinge in die Bultfontein-distrik vinger wys na georganiseerde landbou, wat glo nie daarin belangstel om boere in dié uitdagende tye te help nie. Kriel se reaksie kom ná 'n boer, wat lid is van 'n onafhanklike Bultfonteinse komitee, Woensdag op OFM se landbouprogram, Before Dawn, verwys het na georganiseerde landbou se rol. Kriel sê dit is 'n slegte situasie waarin boere verkeer, veral weens die droogtetoestande, en VL is deur dié groep Bultfonteinse boere genader. Hy sê VL het nie sy rug op dié groep boere gedraai nie. 'n Vergadering met betrokkenes, asook 'n verteenwoordiger van die betrokke bank is deur VL rondom dié kwessie gefasiliteer.
EN
Die Premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela, het ontvangs van 'n brief bevestig waarin die DA in die Vrystaat versoek dat droogtegeteisterde dele in dié provinsie as rampgebied verklaar word. DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, Roy Jankielsohn, sê die brief is verlede Donderdag aan Ntombela, asook die LUR van landbou en landelike ontwikkeling, Benny Malakoane, gestuur. Jankielsohn sê die droogte het boere veral in die westelike saaigebiede in die Vrystaat nou in 'n wurggreep. Jankielsohn sê dit is nou tyd dat die regering in die landboubedryf belê en dele van die Vrystaat as 'n rampgebied verklaar sodat geld beskikbaar gestel kan word om boere te ondersteun.
OFM-nuus
