Agriculture
Landbounuus-podcast: 'n Rowwe tyd lê vir die rooivleisbedryf voor─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:13 Fri, 25 Jan 2019
'n Rowwe tyd lê vir die rooivleisbedryf voor met uitdagings soos die hoë mielieprys, 'n toename in slagtings weens droogtetoestande, en die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo.
'n Bekende landbou-ekonoom, Johan Willemse, sê egter indien die ekonomie in Suid-Afrika kan optel en verbruikers meer kan bestee aan kos, kan die situasie ietwat positief verander. Hy sê 'n oormaat beesvleis van sowat 3000 ton wat maandeliks uitgevoer is, is nou plaaslik beskikbaar weens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid. Dié dilemma nou, is dat dit lank kan neem voordat Suid-Afrikaanse markte weer oop is, vir uitvoer. Hy sê dit beteken die ekstra binnelandse aanbod van rooivleis - moet nou plaaslik verbruik word in 'n gebalanseerde mark-omgewing.
Willemse se eerste kwartaallikse werksessie oor markvooruitsigte vind eerskomende Vrydag by die Bikers Church in Bainsvlei, Bloemfontein aan. Registrasie is om 09:30.
Daar is 'n aansienlike groot styging in die prys van witmielies weens die voortslepende droogte. Die prys van geelmielies word ook beïnvloed. Dit is volgens Agri SA se droogte-opname wat Vrydag vrygestel is. Graan SA se uitvoerende hoof, Jannie de Villiers, sê die toename gaan 'n groot impak op Suid-Afrika se armes hê, wat mielies as stapel voedsel gebruik.
Daar is steeds 'n gesonde vraag na gehalte en goed gegroeide merino-wol. Dit is volgens Heinrich Victor, operasionele bestuurder van vesel by OVK, nadat die Cape Wools Merino-aanwyser met 2.7% en 578 punte gestyg het om op R221 per kg te sluit. Hy sê die rand het die afgelope week ietwat swakker vertoon tydens die nasionale veiling in Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Dit het met R13.88 teen die dollar verhandel, wat 1,3% swakker is, as op die vorige veiling.
Victor sê meer as 9 600 bale is op die veiling aangebied, waarvan 95% verkoop is. Standard Wool het die grootste hoeveelheid bale gekoop. Op die OVK-veiling is altesaam 2 671 bale aangebied, waarvan 96,1% verkoop is. Die hoogste prys op die' veiling was R173 per kg, vir 'n klas BF, 18,2 mikron vierbaal-lot. Dit was uit die skeersel van DL Conroy Farming van Victoria-Wes. Die koper was New England Wool.
OFM-nuus
