Agriculture
Landbounuus-podcast: Voortslepende droogte lei tot verlies van miljarde─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:07 Mon, 28 Jan 2019
In die hoofstorie: Die landboubedryf het al sowat R7 miljard in omset weens die voortslepende droogte in groot dele van Suid-Afrika verloor.
Daarmee saam was daar sedert Januarie verledejaar 'n verlies van sowat 31 000 werksgeleenthede in provinsies weens diedroogte. Dit is volgens Agri SA se droogte-opname wat Vrydag bekendgestel is. Dié organisasie se uitvoerende direkteur,
Omri van Zyl, het op dié geleentheidgesê die situasie in die Suid-Afrikaanse landboubedryf is nou kritiek. Volgens Van Zyl, benodig die landboubedryf minstens R3 miljard in finansiële hulp vanaf die regering om boere te help wat swaar deur die droogte geraak word.
Agri SA het 'n opname in Desember verlede jaar onder sy lede gedoen om die presies uitwerking vas te stel wat die droogte op boerderye en werkskepping oor die land heen het.
Volgens Van Zyl sal Agri SA in die volgende twee weke met betrokkenes in die bedryf, insluitende die regering en banke, oor die droogtesituasie vergader.
EN, in nog 'n storie:
Die droogtesitusie is kritiek in die Noord-Kaap en Noordwes waar baie lae reënvalsyfers en swak grondvoginhoud voorkom. Agri SA se opname, wat gedoen is om die situasie rondom droogtetoestande in provinsies regoor Suid-Afrika vas te stel, dui ook daarop dat die situasie in die Vrystaat kritiek is.
Die Vrystaat het ook 'n lae reënvalstatus, terwyl grondvoginhoud bevredigend tot laag in gebiede is. Daar word ook aangedui dat in van die provinsies dié droogtetoestande al vir etlike jare voortduur. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê die situasie het nou in dié provinsie vererger. Hy sê daar is gebiede waar dit verlede jaar kol-kol gereën het, maar die grootste deel van die provinsie het geen reën gehad nie.
Jansen sê bo-gemiddelde reënval is nou nodig omdat die groeityd vir weiding min raak en daarom is daar groot kommer oor veral weidingstoestande in die Noord-Kaap.
OFM-nuus
