Agriculture
Landbounuus-podcast: R3 miljard word benodig van die regering om hulp aan boere te verleen─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:09 Mon, 28 Jan 2019
Bykans R3 miljard word benodig van die regering om hulp aan boere te verleen wat weens die voortslepende droogte in 'n geldelike krisis is.
Dít is in 'n verslag van Agri SA se droogte-opname aangedui. Die verslag is Vrydag bekendgemaak nadat Agri SA in Desember verlede jaar 'n opname onder sy lede gedoen het, om presies vas te stel wat die droogtesituasie in provinsies oor die land heen is, en ook die impak wat die droogte op boerderye en werkskepping het. Agri SA se adjunk uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, sê in van die provinsies wat swaar gebuk gaan onder die erge droogte van die afgelope paar jaar, is 70% van die boere wat aan die opname deelgeneem het, onder geweldige geldelike druk.
Dié droogteverslag toon dat daar sedert Januarie 2018 'n verlies van 31 000 werks geleenthede in die bedryf was, en die landboubedryf het al sowat R7 miljard verloor. Volgens Rheede het die droogtesituasie 'n verwoestende impak op gewasse en weidings. Daarmee saam verhoog veldbrande die risiko. Hy sê die regering is gevra om voorsiening vir R3 miljard in die nasionale begroting te maak om boere te help.
Hy sê hy hoop die regering sal geldelike hulp kan verskaf sodat banke en landbou besighede boere kan help, in die vorm van rente-subsidies en pogings om rente te kapital-iseer, of om langtermyn-afbetalings ooreenkomste aan boere te bied.
Die droogtesituasie in die Noord-Kaap is kritiek, terwyl die situasie in die Vrystaat en Noordwes ook in Agri SA se droogteverslag uitgelig word. Luidens dié verslag is die situasie rondom ondergemiddelde reënval, lae damvlakke, en swak grondvog in dié provinsies in die sentrale binneland ernstig. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê die suidelike en westelike deel van dié provinsie is reeds as rampgebiede verklaar en ramphulp is ontvang. Hy sê dié gebiede het vir vier jaar agtereenvolgens ondergemiddelde reënval of geen reën gehad nie. Die sentrale deel van die Noord-Kaap word ook nou geraak.
Niel Rossouw, 'n boer en streeksverteenwoordiger van Graan SA in die Kleinharts, Ottosdal en Sannieshof-gebied in Noordwes, sê dit het min gereën in die gebied en dit reën slegs kol-kol. Daar is boere wat 'n kans gewaag het in 'n laat stadium om mielies en sonneblom aan te plant. Hy sê opvolgreën is noodsaaklik, maar vir sommige saaiboere is dit reeds té laat.
OFM-nuus
