On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Goeie reën bring verligting

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:23 Wed, 30 Jan 2019

Landbounuus-podcast: Goeie reën bring verligting | News Article

Minder gunstige reënneerslae en hitte toestande in die westelike produserende saaigebiede van Suid-Afrika het daartoe bygedra dat produsente 'n kleiner oppervlakte onder somergewasse, veral mielies, aangeplant het.


Dit is veral van toepassing op die Vrystaat en Noordwes. Die Oes-skattings-komitee se  voorlopige skatting van die oppervlakte onder kommersiële mielies is 2,269 miljoen hektaar, wat 2,15% minder is as verlede seisoen se aanplantings. Die komitee se skatting vir die oppervlakte onder somergewasse is Dinsdag vrygestel.  OFM-nuus se Christal-Lize Muller doen verslag.

Lang verwagte opvolgreën sedert láát verlede jaar in droogtegeteisterde gebiede van die Vrystaat en Noordwes word deur saaiboere wat wel kon plant verwelkom, maar daar is nog gebiede wat min tot geen reën gehad het. Dit kom nadat goeie neerslae Dinsdag in gebiede, onder meer, by Bloemfontein, Bultfontein, Wesselsbron en Hoopstad uitgesak het. 'n Saaiboer wat tussen Hoopstad en Wesselsbron boer, Chris Schoon-winkel, is dankbaar vir die sowat 90mm reën wat Dinsdag geval het. Hy sê dit het egter kol-kol in die gebiede gereën.

Boere in die Bultfontein-distrik, wat ook swaar gebuk gaan onder die droogte, het aan OFM-nuus gesê reën het kol-kol geval en op plekke gewissel van 1mm tot 22mm. In die Bloemfontein-gebied is 15mm op plekke gemeet.

Terwyl boere in sekere gebiede in die Vrystaat en Noordwes weer kan glimlag nadat dit gereën het, is daar boere in ander gebiede wat nog bitter min reën die seisoen gehad het. Pieter Brink, 'n skaapboer wat tussen Reddersburg en Smithfield in die Vrystaat boer, sê hy het Dinsdag geen reën gehad nie, en die droogtesituasie is nou kritiek. Daar is dele op sy plaas wat sover die somer-seisoen slegs 15mm gereën gehad het.


Intussen voorspel die Suid-Afrikaanse Weerdiens reën vir die res van die week in die Vrystaat en Noordwes. 'n Voorspeller, Kevin Ingram, sê  goeie reën, van tussen 10mm en 15mm word daagliks oor die naweek  in die sentrale en oostelike deel van die Vrystaat en die verre suidelike deel van Noordwes voorspel. Daar is ook 'n geringe kans op reën in die sentrale deel van die Noord-Kaap.



OFM-nuus 


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.