Agriculture
Landbounuus-podcast: Minder boere in die Vrystaat meld veediefstalklagtes aan─── 14:20 Fri, 08 Feb 2019
'n Raadgewende paneel oor grondhervorming, wat deur President Cyril Ramaphosa aangestel is, se verslag sal na verwagting in Maart vanjaar vrygestel word.
Dié aankondiging is Donderdag deur Ramaphosa in sy staatsrede in die Parlement gemaak. Ramaphosa het dié komitee in sy staatsrede geloof vir hul fantastiese werk. Hy het ook verwys na die interministeriële komitee, wat deur adjunkpresident David Mabuza gelei word, oor grondhervorming. Ramaphosa het verder gesê die regering se ingryping in terme van beleid en wetgewing gaan verseker dat meer grond beskikbaar is vir landbou, nywerheidsontwikkeling en vir menslike nedersettings. Daarom ondersteun die regering die grondwetlike hersienings-komitee se proses rondom die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet wat voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding. Hy het gesê daar is reeds grond beskikbaar...
Die Landboubesigheidskamer, oftewel Agbiz, sê President Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede die grondhervormingskwessie aangeraak en georganiseerde landbou is bewus van die proses wat nou volg. Agbiz se uitvoerende hoof, John Purchase, sê daarmee saam is Agbiz se standpunt steeds - dat dit nie nodig is - om die Grondwet te wysig sodat onteiening sonder vergoeding plaasvind nie.
Hy sê Agbiz ondersteun die regering se siening dat die ontwikkelde kommersiële bedryf gebruik moet word as 'n grondslag om die ontwikkelde bedryf stukrag te gee.
EN... Tussen 67% en 80% van boere in die Vrystaat meld nie vee diefstal klagte by die polisie aan nie. Volgens Jane Buys, 'n veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is die nie-aanmelding van dié klagte 'n groot probleem in die provinsie veral omdat vee diefstal die grootste eiendoms-verwante misdaad is wat die landboubedryf in die provinsie negatief beïnvloed.
Buys het Vrydagoggend in die Before Dawn-landbouprogram se ateljee, gepraat oor onder meer VL en die Rooivleis produsente-organisasie, oftewel die RPO se veediefstal-hulplyn wat in werking is. Johann Stadler, voorsitter van die RPO se provinsiale veediefstal voorkomingsforum, het ook aan die gesprek deelgeneem en meen die hulplyn is 'n stap in die regte rigting. Stadler sê dit kan bydra daartoe dat meer veediefstalklagte nou by die polisie aangemeld gaan word, want 'n tekort aan inligting bly 'n groot uitdaging vir dié forum.
Met die hulplyn word boere bygestaan met die proses om 'n verklaring te voltooi waarna die boer self 'n klag by die polisie aanhangig moet maak. Dit kom nadat daar vasgestel is dat, wanneer klagte aangemeld word, daar soms 'n taalprobleem tussen die betrokke polisiebeampte en die klaer bestaan. Die hulplynnommer is 086 199 9300.
OFM-nuus
