Agriculture
Agri Fokus-podcast: Meer oor woluitvoer na China, leierboer sterf aan kanker, Tito Mboweni gee vir landbou─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:49 Wed, 27 Feb 2019
In the OFM Agri Focus insert we look at some of the top stories in the agriculture sector this past week... OFM News’ Christal-Lize Muller reports.
Suid-Afrikaanse wolprodusente moet steeds die Australiese markaanwyser gebruik en oordeelkundig reserwes op hul wol plaas. Dit is volgens die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika (NWKV) se nasionale voorsitter, Guillau du Toit, nadat China 'n verbod geplaas het op die invoer van Suid-Afrikaanse wol nadat bek-en-klouseer in Januarie vanjaar in Limpopo uitgebreek het. Du Toit vra produsente om nie paniekerig te raak nie. Daarmee saam sê hy daar is nie 'n oorskot wol in die land nie en die aanvraag daarna is steeds goed. Die Europese mark is steeds oop vir die invoer van Suid-Afrikaanse wol. Hy sê die bedryf werp alles in die stryd om die uitvoer van Suid-Afrikaanse wol na China spoedig te hervat.
Geld wat beskikbaar gestel is vir grondhervormingsprojekte is 'n goeie begin vir die regering, maar geensins voldoende nie. Dit is volgens Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, nadat die Minister van Finansies, Tito Mboweni, in sy begrotingsrede R1,8 miljard aan 262 grondhervormingsprojekte, wat 'n prioriteit is, beskikbaar gestel het. Maree sê dit kom op sowat R6,8 miljoen per projek neer...
Die DA het die Premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela, se erkenning dat die droogtesituasie in die provinsie verwoesting saai, verwelkom. DA-lid van die wetgewer, Roy Jankielsohn, sê dit is verblydend dat die regering nou aandag aan die landbougemeenskap se lot gee weens die voortslepende droogte. Ntombela het verlede Dinsdag in haar provinsiale rede met die opening van die Vrystaatse Wetgewer gesê R13 miljoen is beskikbaar gestel vir droogtehulp in die provinsie.
'n Bekende in die rooivleisbedryf, veral in die Vrystaat, André Ferreira, het die afgelope naweek sy stryd teen kanker verloor. Die 58-jarige Ferreira is Sondag in 'n hospitaal in Bethlehem oorlede. Ferreira was meer as 20 jaar betrokke by die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die provinsie. Koos van der Ryst, nasionale voorsitter van die RPO, sê Ferreira was toegewyd tot die bedryf en sy bydrae sal gemis word. In sy laaste onderhoud met OFM-nuus in Januarie, het Ferreira gesê hy is hoopvol dat Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status vinniger as in die verlede herstel sal word.
OFM-nuus
