Agriculture
Landbounuus-podcast: Ondersteun Senwes se veldtog, #eetplaaslikehoender─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:56 Fri, 01 Mar 2019
In die hoofstorie: Die Nasionale Oesskattingskomitee se hersiene oppervlakteskatting vir sonneblom-, sojaboon- en grondboon-oeste is minder as aanplantings en die produksie daarvan die vorige seisoen.
Dit is volgens die komitee wat Woensdag die hersiene oppervlakte en eerste produksieskatting vir somergewasse vir 2019 vrygestel het. Dié komitee se Marda Scheepers sê die hersiene oppervlakte onder sonneblomsaad vir die 2018/19 seisoen is meer as (vyfhonderd en vyftien duisend driehonderd hektaar) 515 300 hektaar. Dit is 14,32% minder as die vorige seisoen se meer as 610 000 hektaar wat aangeplant is. Volgens haar is die produksieskatting vir sonneblomsaad meer as 563 000 ton, wat ook minder as die vorige seisoen se 862 000 ton is.
Sy sê die verwagte kommersiële mielie-oes is meer as 10,510 miljoen ton, wat minder is as die 12,510 miljoen ton verlede jaar. Die opbrengs vir mielies is 4,57 ton per hektaar. Die produksieskatting van witmielies is 5,152 miljoen ton wat minder is as die vorige seisoen, terwyl die produksieskatting van geelmielies op 5, 152 miljoen ton ook minder is as die vorige seisoen.
Intussen sê 'n senior landbou-ekonoom van FNB, Paul Makube, mielievoorrade sal voldoende bly weens die verwagte oordrag voorraad van 3,2 miljoen ton teen die einde van die 2018/19 bemarkingseisoen. Daar word dus op die medium termyn 'n beperkte opwaartse uitwerking op mieliepryse verwag, indien daar nie uitermatige skommelinge in die rand en Amerikaanse dollar wisselkoers is nie.
In nog 'n storie: Die Senwes Groep se bewusmakingsveldtog, wat fokus op die belang van die verbruik van Suid-Afrikaanse kommoditeite, begin eerskomende Vrydag. Dié groep se hoof-uitvoerende beampte, Francois Strydom, sê dié landboumaatskappy wil nie op die kantlyn sit nie, maar wil betrokke raak by die produksie-ketting van al die kommoditeite in Suid-Afrika.
Die veldtog gaan fokus op sosiale media waar hutstekens gebruik gaan word om bewustheid te kweek en waar Senwes-werknemers 'selfies' op sosiale media plaas om te wys hoe hulle plaaslike produkte geniet. Die veldtog begin met die fokus op plaaslike hoenderproduksie. Die hutstekens, #eatlocalchicken en #eetplaaslikehoender is van toepassing.
OFM-nuus
