On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-bulletin 13:30 11 Maart 2019

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:35 Mon, 11 Mar 2019

Landbounuus-bulletin 13:30 11 Maart 2019 | News Article

Die rol van familieboerdery vorm die basis van landbou en dra by tot werkskepping in landelike gebiede. Dié boerdery dra daartoe by dat plattelandse dorpe kan voortleef.

Dit is die Transvaalse Landbou-unie, TLU SA, se mening ná mediaberigte oor beweerde uitsprake in die landboubedryf wat neerkom daarop dat 80% van Suid-Afrika se boere net 20% kos produseer. TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê dit is ver van die waarheid.   

Landbouproduksie is meer kompleks as bloot die produksie van stapelkos en daar is baie ander bedrywe wat 'n rol speel om buitelandse valuta te genereer. Kleinboere is verantwoordelik daarvoor om die ekonomie van plattelandse dorpe in stand hou. 

Daarmee saam word werksgeleenthede aan die land se ongeskoolde arbeidsmag verskaf. Dit is volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), in reaksie oor beweerde uitsprake wat daarop neerkom dat 20% van die land se produsente 80% van Suid-Afrika se kos produseer. 

Hy meen dit is 'n gevaarlike stelling, veral omdat landbou in die Vrystaat as 'n geïntegreerde vennootskap tussen betrokkenes in die landbou-waardeketting beskou word. Dit sluit alle boere in.  

 EN

Onsekerheid onder boere oor hul oes-opbrengste het waarskynlik 'n invloed op trekkerverkope in Februarie vanjaar gehad. Dit is volgens die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-vereniging (Saama) se Jim Rankin nadat 526 trekkereenhede verlede maand verkoop is. 

Hy sê dit is 13% laer as die altesaam 604 eenhede wat verlede jaar in Februarie verkoop is. Volgens hom is die afname ietwat teleurstellend. 

Hy sê vir 12 maande agtereenvolgens is trekkerverkope marginaal 0,3% hoër as verkope vir die ooreenstemmende vorige tydperk. Altesaam15 stropereenhede is in Februarie verkoop wat ook aansienlik laer is as die 21 eenhede wat in dieselfde tydperk verlede jaar verkoop is. Rankin meen vroeë aanduidings is dat verkope op 'n soortgelyke vlak of selfs ietwat laer kan wees as die altesaam 6 700 eenhede wat verlede jaar verkoop is. 

 EN

Verskeie Bloemfonteinse skoolkinders kry vandeesweek die geleentheid om meer van landbou en die wolprodukte, wat hulle verbruik, te leer. 

Die Bloemskou se jaarlikse skeerdemonstrasies word Dinsdag by die Vrystaat-nasorgsentrum en Lettie Fouché-skool, Donderdag by die Primêre Skool Jim Fouché en volgende Maandag by Greykollege Primêr tydens dié skool se Supersport-week aangebied. 

Die hoof-uitvoerende beampte van Bloemskou, Elmarie Prinsloo, sê die demonstrasies word die afgelope agt jaar in samewerking met die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) aangebied.  Skape word met die hand asook 'n masjien geskeer, waarna die skeerders, wat die twee metodes gebruik, teen mekaar meeding. Prinsloo sê demonstrasies van die spin- en breiprosesse van wol vorm deel van die aanbieding. 

 Die nasionale skaapskeer- en wolhanteringskampioenskap vind vanjaar tydens die Bloemskou op 26 en 27 April by die skougrond in die skeerkompleks plaas.

OFM Nuus


 

 

 

 

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.