Agriculture
Landbounuus-podcast: Suid-Afrika kan weer rouwol na China uitvoer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 18:02 Mon, 03 Jun 2019
Suid-Afrika kan weer rouwol na China uitvoer, maar daar is steeds sekere vereistes waaraan voldoen moet word.
Die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika (NWKV) se algemene bestuurder, Leon de Beer, sê onderhandelinge met China was suksesvol nadat die Suid-Afrikaanse departement van landbou bekendgemaak het dat bek-en-klouseer amptelik in Limpopo se bek-en-klouseervryesone onder beheer is. Bek-en-klouseer het op 7 Januarie vanjaar in die Vheme-distrik uitgebreek. Volgens die departement was daar sedert Februarie vanjaar geen nuwe voorvalle wat in dié siektebeheergebied voorgekom het nie. De Beer sê die uitvoer van rouwol na China is goeie nuus, maar daar is steeds vertragings in die proses. Hy sê daar is verskeie voorgestelde temperature vir die berging van wol. Dit sluit in vier grade Celsius vir vier maande,18 grade Celsius vir vier weke en 37 grade Celsius vir agt dae. Daarmee saam word die uitvoer van wol steeds vertraag deur die sertifiseringsproses. Verwerkte wol kan na China uitgevoer word.
Vee wat van Lesotho na Suid-Afrika kom, terwyl daar nie van wettige toegangsroetes of grensposte gebruik gemaak word nie, is 'n groot bron van kommer vir Vrystaat Landbou (VL), veral nadat miltsiekte in dié buurland uitgebreek het. Vrystaat Landbou se president Francois Wilken, sê grensbeheer is deurlopend noodsaaklik, want veediefstal en onwettige weiding van vee uit Lesotho in Suid-Afrika is 'n groot uitdaging. Hy sê VL het vir baie jare die Suid-Afrikaanse regering bewus probeer maak van die gevare by die Lesotho-grens, sonder enige sukses. VL was al in 'n reeks hofgedinge met die regering betrokke. Wilken sê daar sal nou met die nuwe LUR'e van polisie en landbou in die Vrystaat vergader moet word, want die probleem gaan nie opgelos word deur slegs 'n verbod op die invoer van vee en wol uit Lesotho te plaas nie.
EN
Agri Wes-Kaap het sy skok uitgespreek oor nog 'n moord op 'n plaas in minder as 'n maand in dié provinsie. In die jongste voorval is Stefan Smit van die Louiesenhof-wynlandgoed, buite Stellenbosch, Sondag doodgeskiet toe vier aanvallers die plaashuis binnegekom het. Die ander twee mense wat saam met Smit was, is ongedeerd. Agri Wes-Kaap soek nou antwoorde by president Cyril Ramaphosa wat voorheen gesê het wit boere het 'n toekoms in Suid-Afrika. Hulle moet nie die land verlaat nie. Volgens inligting was Smit sedert November verlede jaar in 'n regstryd gewikkel om onwettige betreders van sy grond te verwyder. Tool Wessels, 'n boer van Bonnievale in die Wes-Kaap, is in Mei vermoor.
OFM-nuus
