Agriculture
Landbounuus-podcast: Grondhervorming sal onder die loep kom tydens Staatsrede - kenner─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:39 Wed, 19 Jun 2019
Grondhervorming gaan heel waarskynlik onder die loep kom wanneer pres. Cyril Ramaphosa Donderdag sy staatsrede in die Parlement lewer.
Ramaphosa gaan daarmee saam grondonteiening sonder vergoeding noem, maar gaan na verwagting nie breedvoerig daaroor uitwei nie. Dit is volgens Theo Venter, 'n politieke ontleder van die Noordwes Universiteit (NWU) se besigheidskool, wat meen Ramaphosa gaan waarskynlik ook nie oor die inhoud van die presidensiële raadgewende paneel se verslag oor grondhervorming praat nie. Die paneel, onder leiding van dr. Vuyo Mahlati, voorsitter van die African Farmers Association of South Africa, Afasa, is in 2018 aangestel om die werk van die interministeriële komitee oor grondhervorming te ondersteun en om in 'n adviserende hoedanigheid oor oor onder meer beleidskwessies, restitusie, die herverdeling van grond en landbou-ondersteuning op te tree. Venter sê dié verslag, wat verlede week aan Ramaphosa en adj.pres. David Mabuza oorhandig is, is na wat hy verneem, verkort.
Dit gaan tyd neem om die uitwerking van verandering in Suid-Afrika te sien nadat pres. Cyril Ramaphosa die leisels oorgeneem het. Nico Groenewald, die hoof van Standard Bank se Agribesigheid, meen egter op grond van veranderinge wat reeds plaasgevind het sedert Ramaphosa aan bewind is, gaan die land momentum kry. Hy sê die werk wat gedoen word in terme van grondhervorming sedert Ramaphosa in beheer is, dui ook daarop dat die land op dreef kom.
EN
Intussen sê dr. Kobus Laubscher die verdiepende Suid-Afrikaanse ekonomiese insinking het dringend aandag nodig. Swak ekonomiese prestasie en die gebrek daaraan gaan sy tol oor grense heen eis. Buurlande se kleiner ekonomieë het nie die vermoë om dit te verweer nie, tensy 'n meesterplan opgestel en gedryf word om Suid-Afrika se ekonomie op 'n voldoende wyse aan die gang te kry. Hy sê die landboubedryf se swak prestasie in die eerste kwartaal vanjaar wek ook kommer, veral die veerkragtigheid van dié bedryf om tot ekonomiese groei by te dra, word bevraagteken.
OFM-nuus
