Agriculture
PODCAST: Agri-nuus @ 13:30─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:18 Mon, 24 Jun 2019
Zimbabwe, Mosambiek en Kenia gaan in die komende 2019/20 bemarkingsjaar meer mielies moet invoer om aan plaaslike aanvraag te voldoen.
Die prentjie is nie rooskleurig vir dié lande nie, en die vraag ontstaan of die invoer van rys nie 'n antwoord gaan wees op dié lande se mielietekorte nie. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom en hoof van navorsing by die landbousakekamer, Agbiz, sê rys kan as 'n vervanger vir mieliemeel in huishoudings gebruik word. Sihlobo sê in sy weeklikse markverslag dat dié drie lande gesamentlik bykans 2,5 miljoen ton mielies sal moet invoer.
Sihlobo sê die jongste syfers toon Sub-Sahara-Afrika se invoer van rys kan in 2019 met sowat 17,7 miljoen ton met 6% op 'n jaar-tot-jaar grondslag styg. Nigerië en Suid-Afrika is van die lande wat belangrike dryfvere hiervan gaan wees. Hy sê die verwagte toename in rysinvoere na Suid-Afrika sal nie alleenlik vir huishoudelike gebruik wees nie. Suid-Afrika voer gemiddeld ongeveer 124 000 ton rys per jaar weer na van sy buurlande uit.
EN
EFF-leier, Julius Malema, sê die stryd om grondbesit begin nie nou vir die eerste keer in Suid-Afrika nie. Dit is 'n stryd wat oor baie jare kom en geen skikking sal aangegaan word totdat grond aan swart Suid-Afrikaners teruggegee word nie. Malema het sy ondersteuners verlede Vrydag in Bloemfontein toegespreek. Malema het in die plaaslike landdroshof op 'n aanklag van die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956 verskyn, nadat hy EFF-lede in 2014 by 'n byeenkoms in Bloemfontein aangemoedig het om grond onwettig te beset.
Malema se verhoor is tot 8 November uitgestel hangende sy aansoek in die konstitusionele hof. Hy wil dié wet ongrondwetlik laat verklaar.
EN
Pres. Cyril Ramaphosa is 'n tipiese voorbeeld van 'n leier wat gehore betower. Dit is volgens die Vryheidsfront Plus se woordvoerder en LP, Wouter Wessels, in reaksie op die staatsrede wat verlede week in die Parlement plaasgevind het. Wessels sê ten opsigte van grondonteiening sonder vergoeding wil Ramaphosa die EFF-leier, Julius Malema, gerusstel, maar terselfdertyd ekonomiese groei en beleggings bevorder.
Intussen sê Agri SA hy sal voortgaan om praktiese oplossings tot die dringende kwessie van grondhervorming voor te stel. Agri SA se adjunk-uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, sê dit sluit onder meer in die vestiging van nuwe kommersiële boere en die ontwikkeling van dié bedryf op 'n kommersiële vlak in kommunale gebiede.Hy sê Agri SA wil die ontwikkeling, winsgewendheid, stabiliteit en volhoubaarheid van landbou in die belang van boere, plaaswerkers en gemeenskappe op plase, bevorder.
OFM Nuus
