On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Afrika-varkpesvirus veldtog van stapel gestuur

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:46 Thu, 04 Jul 2019

Landbounuus-podcast: Afrika-varkpesvirus veldtog van stapel gestuur | News Article

Die nasionale departement van landbou het reeds begin met 'n veldtog om varkprodusente, asook gemeenskappe in die Vrystaat en Noordwes, bewus te maak van die Afrika-varkpesvirus (AVPV).


Dit kom nadat beheermaatreëls reeds in plek is ná die uitbreking van dié virus in dié provinsies. Die direkteur van veeartsenykundige dienste by die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, Kristan Mojapelo, sê dié virus het aanvanklik op 'n plaas by Heilbron uitgebreek en daar is ook 'n uitbreking by Koppies aangemeld. Dit kom nadat die dodelike virus onder varke in Noordwes, Gauteng en Mpumalanga aangemeld is. Mojapelo sê die veldtog het ten doel om varkboere en gemeenskappe oor dié virus in te lig. Dié veldtog het reeds in Bloemfontein, Springfontein en Fouriesmith in die Vrystaat plaasgevind met die volgende sessie op 15 Julie in Rustenburg in Noordwes.

Die landboumaatskappy, OVK, het 'n winsgewende jaar agter die rug. Dié maatskappy, wat vanjaar sy honderdste bestaansjaar vier, het 'n wins van R199,8 miljoen behaal. Dit is voor belasting en lojaliteitskema-uitkerings. Daarmee saam was die omvang van besigheid wat die afgelope jaar gedoen is, R10,2 miljard. Stefan Oberholzer, besturende direkteur, sê OVK se geografiese diversifikasie en sy verskeie sake-eenhede,  maak dit 'n stabiele maatskappy. Oberholzer sê die meeste van dié maatskappy se aandeelhouers is bona-fide boere. Daarmee saam het die getal aandeelhouers aan die einde van die 2019 finansiële jaar na meer as 12 280 toegeneem. Hy sê OVK is voorwaar trots daarop, veral as statistieke in ag geneem word wat aandui dat daar 36 000 kommersiële boere in die land is. Volgens hom kom dit daarop neer dat nagenoeg 30% van dié boere dus aandeelhouers van OVK is.

EN

Agri Gauteng, in samewerking met Agri SA, bied vanjaar weer die Agri Gauteng-ekspo aan. Dit is die tweede keer dat dié ekspo, wat daartoe verbind is om jong en opkomende boere aan 'n lewenskragtige bedryf bloot te stel, sal plaasvind. 'n Lewende hawe veiling, wat deur Vleissentraal aangebied word, sal weer eens 'n fokuspunt van dié ekspo wees. Daar sal ook werksessies oor alle aspekte van veeboerdery wees. Dit sluit 'n inleiding tot varkboerdery, onthoring en merk van beeste, asook op-die-hoef-beoordeling van beeste, skape en bokrasse in. Daar sal ook 'n sessie wees oor karkasbeoordeling. Die ekspo vind van 7 tot 9 Augustus by Vleissentraal, Onderstepoort, plaas. Toegang is gratis.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.