Agriculture
Landbounuus-podcast: #Estina se leë beloftes in kollig─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:37 Wed, 24 Jul 2019
Beloftes is aan begunstigdes van die omstrede Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat gemaak wat nooit vrugte afgewerp het nie.
Dit is van die getuienis wat aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping voorgelê is. 'n Boer van Vrede, Makhosino Dhlamini, wat een van 80 begunstigdes wat veronderstel was om 52% se aandeel in dié projek te ontvang, het Dinsdag voor die kommissie verskyn. Hy het aan die kommissie gesê hulle het snuf in die neus gekry toe lede van die Gupta-gesin op die plaas was toe die voormalige LUR van landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat, Mosebenzi Zwane, die begunstigdes destyds toegespreek het. Dhlamini het met behulp van 'n tolk vertel dat baie mense bewus was van die Guptas se betrokkenheid. Hy sê hy het kommer uitgespreek oor die projek tydens 'n Imbizo wat die voormalige Minister van Landbou, Senzeni Zokwana, bygewoon het.
'n Passievolle beesboer van Potchefstroom, wat ook 'n stoere Angus-teler is, is heel in sy noppies met sy kruisteelprogram. Kobus Delport sê hy kruisteel Angus-bulle met Nguni-koeie nadat hy sy vrou en dogter, wat aanvanklik met Ngunis geteel het, oorreed het om eerder Angus-bulle te gebruik. Delport bied Donderdag buite Potchefstroom vir die eerste keer van dié kruisteeldiere op sy jaarlikse produksieveiling aan.
EN
Die DA spits hom nou toe op die voortslepende droogte wat boere in die Noord-Kaap knyp. DA-leier, Mmusi Maimane, en die Noord-Kaapse DA-leier, Andrew Louw, besoek die provinsie Woensdag om dié politieke party se strategie rondom die situasie bekend te maak. Boere in die grootste deel van die provinsie gaan gebuk onder erge droogtetoestande wat al vir die afgelope vyf jaar in talle distrikte voortduur. Die DA is van mening dat dringende ingryping nou nodig is om 'n provinsiale krisis, wat negatiewe nasionale gevolge kan inhou, te voorkom.
OFM-nuus
