On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Agri SA bekommerd oor adviespaneel grondhervorming verslag

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:58 Mon, 29 Jul 2019

Landbounuus-podcast: Agri SA bekommerd oor adviespaneel grondhervorming verslag | News Article

Agri SA het sy kommer uitgespreek oor die adviespaneel oor grondhervorming en landbou se finale verslag.


Dié organisasie se beleidshoof vir grond, Annelize Crosby, sê daar is in dié verslag wat Sondag deur die voorsitter van die adviespaneel, Vuyo Mahlati, bekendgestel en aan die kabinet voorgelê is, sprake van drie moontlike wysigings aan die Grondwet. Dit sluit nou meer in as slegs 'n wysiging wat voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding. Die paneel stel voor dat eise wat ingestel is waar mense hul regte verloor het ná 1913 moet nou geldig wees. Die afsnydatum rondom restitusie moet in dié geval verwyder word. Sy sê nog 'n wysiging, wat 'n groot bron van kommer is, is dat dit nou moontlik gaan wees om 'n moratorium op plaasuitsettings daar te stel. Daarmee saam sê Crosby die versterking van plaasbewoners se regte, wat dan afdwingbaar gaan wees op grondeienaars, hou ook negatiewe gevolge in.

Daarmee saam het die Suider-Afrika Agri Inisiatief, Saai, ook die adviespaneel oor grondhervorming en landbou se verslag skerp gekritiseer. Saai se direksievoorsitter, Theo de Jager, sê benewens die verslag se oppervlakkige en eensydige weergawe van die geskiedenis van grondbesit, dui dit glad nie aan waarom die wild- en bosbou-bedrywe spesifiek vir grondonteiening sonder vergoeding geteiken word nie.

Meer hektaar koring op droëland is dié seisoen in die Vrystaat aangeplant. Die hoof van graanekonomie en bemarking by Graan SA, Dirk Strydom, sê die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se voorlopige oppervlakteskatting vir wintergewasse dui aan dat aanvanklike koringaanplantings in die Vrystaat met 20 000 hektaar aangepas is.  Dit is ook 25 000 hektaar meer as verlede jaar se aanplantings. Hy sê dit kan toegeskryf word aan verskeie faktore. Hy sê sekere struktuurveranderinge in die koringmark, soos om vir produsente wat hoë gehalte koring lewer 'n bykomende inkomste te bied deur veranderinge aan graderings, kon ook daartoe bydra dat meer hektaar koring in die Vrystaat aangeplant is. Volgens hom is die oppervlakteskatting van aangeplante koring onder besproeiing in lyn met vorige aanplantings in dié provinsie.  

EN

Nog 'n aanval op 'n plaas in die Vrystaat die afgelope naweek is 'n klinkklare bewys dat dringende polisie-optrede om landelike gemeenskappe te beskerm nou nodig is. Dit is volgens Mariette Pittaway, DA-woordvoerder, nadat Pieter de Klerk en Marlene Smit Vrydagaand deur vyf gewapende mans op die plaas Vanderwaltsrus in die Vredefort-distrik aangeval is. Pittaway sê dit is die tweede aanval op 'n plaas in die Vrystaat sedert 'n opkomende boer, Johannes Mazibuko, in die Frankfort-distrik, meer as 'n week gelede 'n wrede messedood gesterf het. Sakkie en Ina van der Berg is ook vroeër vandeesmaand in hul plaashuis buite Boshof in die Vrystaat vasgebind, geslaan en doodgeskiet.


 

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.