Agriculture
Landbounuus-podcast: Landboubedryf 'nie bygedra tot ekonomiese herstel'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:40 Wed, 04 Sep 2019

Dit is ontmoedigend dat die landboubedryf nie bygedra het tot Suid-Afrika se ekonomiese herstel nie nadat die Bruto Binnelandse Produk (BBP) in die tweede kwartaal van die jaar met 3,1% gegroei het.
Dit kom ná 'n hersiene daling van 3,1% in die eerste kwartaal van die jaar. Mammelo Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, sê die ekonomiese groei is hoofsaaklik gedryf deur 'n oplewing in die mynbousektor, wat met 14,4% gegroei het. Finansies, aangedryf deur die bank-en versekeringsbedrywe, handel en die regering het ook 'n groei getoon. Hy sê landbou het met 4,2% gedaal en dié inkrimping kan toegeskryf word aan die laer produksie van tuinbouprodukte en gewasse. Die Landboubesigheidskamer, Agbiz, se Wandile Sihlobo sê daar was aanvanklik positiewe verwagtinge vir landbou ná 'n sterk inkrimping van 16,8%. Daar was hoop dat verbeterde produksie van gewasse 'n herstel in die sektor sou veroorsaak.
Die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat se inentingsprogram teen hondsdolheid gaan na verwagting vandeesmaand oor die provinsie heen plaasvind. Die LUR van landbou, William Bulwane, het aan OFM-nuus gesê 'n nood-inentingsveldtog is vandeesweek in die westelike deel van Bloemfontein by Woodland Hills begin, nadat 'n rooimeerkat positief vir dié siekte getoets het. In nog 'n geval het 'n hond in die Tempe-gebied positief getoets. Eienaars van meestal honde en katte het hul troeteldiere Maandag na die Woodland Hills-bushalte geneem om deur staatsveeartse ingeënt te word. Bulwane het dié geleentheid bygewoon en gesê dit is noodsaaklik dat troeteldiereienaars toesien dat hul diere ingeënt word, want dié dodelike siekte hou 'n gevaar vir mense in.
EN
Graan SA se Nampo-Kaap begin vandag in Bredasdorp in die Wes-Kaap. Van die daaglikse hoogtepunte op vanjaar se program sluit in Graan SA in samewerking met Omnia en Landbouweekblad se boerepatente-kompetisie. Daar is ook 'n propvol veeprogram met 'n Cape Mohair en Wool (CMW) skeer-demonstrasie en merino-beoordelaarsopleiding. Die Alpha-interras-jeugkampioenskap vind Donderdag plaas met 'n kleinvee-bestuurslesing waarby die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die Nasionale Wolkwekersvereniging, BKB en die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling betrokke is. Daar is ook 'n perdeprogram met onder meer 'n dresseervertoning en 'n presisie-dryfkliniek. Nampo-Kaap duur tot Vrydag.
OFM-nuus