Agriculture
Landbounuus-podcast: Mededingende suikerstrategie nodig─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:35 Mon, 09 Sep 2019
'n Strategie vir die suikerbedryf wat gegrond is op mededingendheid moet in plek gestel word.
Daarmee saam moet transformasie in die hele waardeketting vir suiker bespoedig word, terwyl wysigings aan die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) se Grondwet en die suikerbedryf-ooreenkoms gemaak word. Dit is wat die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid verlede week aangehoor het nadat betrokkenes in die bedryf en die onderskeie ministers van handel en nywerheid en landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Ebrahim Patel en Thoko Didiza, saamgespan het. Daar is toe op 'n uitvoergerigte benadering besluit wat gemik is op die Afrika-mark. Dit gaan gedoen word deur die instelling van die Afrika-vryhandelsgebied AfCFTA. Die department van handel en nywerheid het ook beklemtoon meer produkte soos etanol, asook die gebruik van suikerriet vir die opwekking van elektrisiteit en bio-gebaseerde plastiekprodukte, moet aangebied word.
Die LUR van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in die Noord-Kaap, Nomandla Bloem, stel vandag die provinsie se lekgotla vir omgewingstoepassing en handhawing in Kimberley bekend. Provinsiale woordvoerder, Zandisile Luphahla, sê dié geleentheid vorm deel van die Groen Skerpioene, die departement van omgewingsake, bosbou en visserye se omgewingsbestuursdirektoraat, se agtste lekgotla, wat na verwagting tot Donderdag duur. Die direktoraat is ingevolge die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur in 2005 in werking gestel. Luphahla sê die lekgotla se tema is gerig op die toekoms, wat saam aangepak moet word. Luphahla sê dit ondersteun 'n samehangende reaksie op uitdagings in die omgewing en 'n groter samewerking tussen die onderskeie omgewingsowerhede om probleme in onder meer water en lugbesoedeling tot chemiese afval, storting en rommel aan te spreek.
Die Departement van Onderwys in die Vrystaat beoog om 48 plaasskole, wat nie meer lewensvatbaar is nie, in verskillende distrikte in dié provinsie se deure te sluit. Die onderwyswoordvoerder, Howard Ndaba, het aan OFM-nuus gesê dié besluit is geneem weens die lae getal inskrywings wat per skool ontvang is. Hy sê die leerdertal in dié betrokke skole wissel van 0 tot 21. Hy sê van die skole wat gesluit gaan word, sluit in Blydskap in die Xhariep-distrik, Motheu in Lejweleputswa, Modderpoort in Motheo, Emfuleni in die Thabo Mofutsanyana-distrik en Daniel Bernado in die Fezile Dabi-distrik.
EN
Intussen is boere en hul plaaswerkers in die distrik Wesselsbron en Bothaville in die Vrystaat se probleem rondom die vervoer van kinders na die Bovaal-plaasskool opgelos. Dit kom nadat die onderwysdepartement na bewering weke versuim het om kontrakteurs te betaal wat kinders in dié distrik per bus na dié skool moes vervoer. 'n Boer in die distrik, Boeboe Louw, sê kort ná OFM-nuus se berig het die departement opgetree. Hy sê die plaasskool is waardevol vir boere in die distrik, want plaaswerkers is ook bekommerd oor die toekoms van hul kinders. Volgens hom plaas dit groot geldelike druk op plaaswerkers om hul kinders in dorpsskole te plaas.
OFM-nuus
