Agriculture
Landbounuus-podcast: NDBV wag op terugvoer rakende besending skape─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:08 Mon, 16 Sep 2019
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) wag steeds vir terugvoer van die regering rakende 'n besending van 60 000 skape na die Midde-Ooste.
Grace de Lange van die NDBV, sê hulle is diep bekommerd oor die nuus dat die Al Shuwaikh-vragskip reeds by die Oos-Londense hawe vasgemeer is. Sy sê Al Mawashi, 'n invoerder van Koeweit, het 'n onderneming in Suid-Afrika geregistreer en gebruik Bruce Page van die Page Farming Trust by Oos-Londen om skape te bekom. Dié skape, wat bestem is om uitgevoer te word is volgens De Lange se inligting reeds by dié trust se voerkrale. Sy sê daar is nog nie sekerheid oor wanneer dié skape op die vragskip gelaai gaan word nie. De Lange sê die NDBV is veral besorgd oor die roete en klimaatstoestande van die reis na die Midde-Ooste wat nie gunstig vir dié is diere nie. Sy sê die NDBV het Maandag eers uitgevind dié vragskip het in Suid-Afrika aangekom, waarna hulle meer inligting by die betrokke regeringsamptenare probeer bekom het. De Lange sê die diere wat wel die reis oorleef, sal in 'n Koeweit aankom wat geen wette op dierebeskerming het nie.
Die Rooivleisprodusente-organisasie, RPO, gaan toesien dat invoerpermitte vir slagdoeleindes van lewende hawe vanaf Suid-Afrika se buurlande streng volgens bestaande invoermaatreëls geskied. Dit kom nadat die minister van landbou-ontwikkeling en voedselsekuriteit van Botswana, Fidelis Molao, bekendgemaak het dat beeste tydelik vir dié doeleiendes na Suid-Afrika uitgevoer gaan word. Molao se aankondiging is glo ter ondersteuning van plaaslike boere wat gebuk gaan onder erge droogte. Die RPO se Gerhard Schutte sê dié eensydige aankondiging gaan verdere geldelike druk op Suid-Afrikaanse kommersiële en opkomende beesboere plaas. Volgens hom het die RPO al 'n geruime tyd gelede verseker dat invoerpermitte vir slagdoeleindes volgens die riglyne van die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie (OIE) gefinaliseer is. Dié permit stel streng voorwaardes en 'n dieregesondheidsertifikaat word daarvolgens vir uitvoerdoeleindes benodig.
EN
Klagte van veediefstal wat nie by die polisie aangemeld word nie neem toe in Suid-Afrika. Die Transvaalse Landbou-unie, oftewel TLU SA, se adjunk-hoofbestuurder, Chris van Zyl, sê dit is 'n reuse-probleem. Sy reaksie kom nadat die minister van polisie, Bheki Cele, verlede week die nasionale misdaadstatistiek vir die 2018/19 boekjaar in die Parlement bekendgemaak het. Luidens dié statistiek het veediefstal in Suid-Afrika met 2,9% toegeneem. Van Zyl sê daar is groot kommer oor dié toename en die feit dat onderrapportering van veediefstalklagte ook toeneem. Hy sê TLU SA het al met die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, vergader om onder meer te versoek dat daar meer aandag gegee moet word aan geweldsmisdaad op plase en kleinhoewes. Dit sluit die grootskaalse diefstal van produkte in.
OFM-nuus
