On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Nog geen droogtehulp van regering in NK

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:44 Mon, 14 Oct 2019

Landbounuus-podcast: Nog geen droogtehulp van regering in NK | News Article

Boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap het nog geen ondersteuning van die nasionale regering in terme van droogteramphulp ontvang nie.


Slegs R30 miljoen is deur die provinsiale landbou-departement as 'n tydelike ingrypingsmaatreël beskikbaar gestel. Dit is volgens Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, wat op Agri SA se kongres aan OFM-nuus gesê het adjunk president David Mabuza het dié aankondiging onlangs tydens 'n besoek aan Aggeneys naby Springbok bekendgemaak. Jansen verwelkom die regering se bydrae, maar meen die regering se droogtehulp is broodnodig. Hy sê dit is verder positief dat opkomende boere tydens Mabuza se besoek aan dié provinsie eens was dat die koeponstelsel met die verspreiding van veevoer deur landbou-organisasies 'n doeltreffende metode is. Daar kan onder meer rekenskap van dié geld gegee word. Volgens Jansen sal begunstigdes na verwagting vandeesweek vir veevoerskenkings geverifieer word, sodat daar vasgestel kan word wat die omvang van die droogte is. Dit sal deur 'n aansoekproses gevolg word.

Die Departement van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, is in die proses om innoverende maniere te vind om alternatiewe waterbronne te ontgin. Minister Lindiwe Sisulu sê alles word nou in die stryd gewerp om water te vind in gebiede waar droogtetoestande voortduur. Volgens haar word boorgate gebruik as waterbronne en daar word nou gekyk hoe dié water doeltreffend versprei kan word. Sy sê daar is ook ander alternatiewe bronne wat moontlike oplossings kan bied.

Intussen spits die Vryheidsfront Plus hom toe om volgehoue druk op die regering te plaas om droogteramphulp aan boere in die Noord-Kaap te verleen wat swaar deur die voortslepende droogte geraak word. Dié politieke party se leier, Pieter Groenewald, sê die regering moet boere daadwerklik bystaan en daar is lesse wat geleer kan word uit die droogtesituasie in Namibië. Hy sê veegetalle in dié Suid-Afrikaanse buurland is feitlik gehalveer weens die droogte en die Suid-Afrikaanse regering mag nie toelaat dat dieselfde situasie in die Noord-Kaap afspeel nie. Volgens Groenewald sal daar ook druk op die regering uitgeoefen word om die Noord-Kaap tot 'n nasionale rampgebied te verklaar sodat geld uit die ramp se noodlenigingsfonds beskikbaar gestel kan word.

EN

AgriSETA het die eerste loopbaanberaad in Empangeni, KwaZulu-Natal, van stapel gestuur. Die Owen Sithole Landbou-kollege het die eerste van vier geleenthede aangebied. Plaaslike gemeenskapsleiers, asook die Nasionale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, het die beraad ondersteun. Meer as 450 gr.9-leeringe van die streek het die geleentheid gekry om deur middel van uitstallings deur onder meer die Landbounavorsingraad (LNR) en die Suid-Afrikaanse suikervereniging, asook Afrivet, meer oor loopbaanmoontlikhede in die landboubedryf uit te vind. Zenzele Myeza, uitvoerende hoof van AgriSETA, het gesê dit is vir dié instelling belangrik om die jeug aan geleenthede in die landbouwaardeketting bloot te stel.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.