Agriculture
Landbounuus-podcast: Ongunstige klimaat kan koringoes verlaag─── CHRISTAL-LIZE MULLER 18:10 Wed, 23 Oct 2019
Die Wes-Kaapse totale koringoes kan na verwagting laer wees weens ongunstige klimaattoestande.
'n Klimatoloog van Santam Landbou, Johan van den Berg, sê daar was aanvanklik sprake van 'n rekordoes, maar skade is in Augustus en September deur droë en warm toestande in produksiegebiede aan die koringoes aangerig. Daarmee saam dui voorspellings op verdere ongunstige toestande in die komende weke wanneer produsente begin om te oes. Hy meen koringproduksie in die Vrystaat is in 'n soortgelyke situasie. Produsente het dié wintergewas aangeplant aan die begin van die seisoen, in natter toestande, maar weens die uitermatige hitte en warm windtoestande die afgelope weke in produksiegebiede, kry veral droëlandkoring swaar. Van den Berg is verder bekommerd oor die stand van damme wat sover nog redelik goed gelyk het, maar sekere damme se vlakke neem nou af. Die Vaaldam is onder 50% vol, terwyl die Katsedam in Lesotho ook lae damvlakke het.
Die kwik kan na verwagting teen Vrydag in gebiede in die sentrale binneland styg. 'n Voorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, Michael Nethavhani, sê hittegolftoestande kan dan voorkom in die oostelike deel van Noordwes, Gauteng asook die verre noordoostelike deel van die Vrystaat. Hy sê in Vereeniging kan temperature bo 34 grade Celsius verwag word. Dit kom nadat laer maksimum dagtemperature vandeesweek in die sentrale deel van die Vrystaat en 'n groot deel van die Noord-Kaap voorgekom het. Volgens hom was dít weens frontale stelsels langs kusgebiede in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Hy sê 'n noordweste wind sal na verwagting teen Donderdag in die Vrystaat voorkom wat ook 'n styging in temperature veroorsaak. Laer temperature gaan na verwagting vir die volgende week steeds in 'n groot deel van die Noord-Kaap voorkom, met uitsondering van gebiede noord van Upington. Temperature bo 30 grade Celsius kan verwag word. Nethavhani sê daar is 'n geringe kans op verspreide donderbuie teen volgende Donderdag in Noordwes en die grootste deel van die Vrystaat, met geen reën in die Noord-Kaap nie.
Skakel Vrydagoggend in op OFM se landbouprogram, Before Dawn, wanneer dr. Herman Fouché, 'n navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR) in die Vrystaat, praat oor die veevoerwaarde van turksvy-vetplante, veral in droogtegebiede in die land. Hy is van mening dat daar gulde geleenthede vir produsente is om in turksvyboorde te belê.
EN
Die DA in die Noord-Kaap is gekant teen 'n besluit deur die Kamiesberg-munisipaliteit om 'n multimiljoenrandse sportveldprojek vir Kharkams aan te pak. Dié reaksie kom veral met droogtetoestande wat nou kritiek is in 'n groot deel van dié provinsie. Vernonica van Dyk, LP en kiesafdelingshoof van Kamiesberg, sê dié munisipaliteit kan nie drinkwater aan inwoners van dié gebied verskaf nie, maar gras word op dié sportveld aangeplant. Volgens haar is dié watergesentreerde projek se kontrak aan Namakwaland Construction teen meer as R12,9 miljoen toegeken. Die projek sluit in die opgradering van die bestaande rugby- en sokkerveld, asook die oprig van 'n besproeiingstelsel en kleedkamers. Van Dyk sê intussen is die boorgat vir dié veld nog nie gekoppel nie en daar is nie 'n bespoeiingstelsel nie. Na wat verneem word, word water aangery na die uitgedroogde grasveld, wat bykans twee weke gelede aangeplant is.
OFM-nuus
