Agriculture
Landbounuus-podcast: Wapen amnestietydperk goedgekeur─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:23 Fri, 25 Oct 2019
Die Portefeuljekomitee oor Polisie het vandeesweek 'n amnestietydperk van ses maande goedgekeur.
Dit verskaf aan burgers van die land die geleentheid om vrywillig wettige en onwettige vuurwapens by polisiekantore in te handig. Daar is aanvanklik beplan dat dié amnestietydperk van 1 Oktober tot 31 Maart 2020 sou duur, maar dit kon egter nog nie begin nie weens verskeie redes. Dié komitee het Woensdag voorgestel die aanvangsdatum verskuif na 1 Desember 2019 tot Mei 2020, sodat al die administratiewe prosesse in die Parlement afgehandel kan word.
Dit is weer tyd vir die jaarlikse groot krieket-opskop op die plaas Prior Grange by Springfontein in die Vrystaat. Boere en belangstellendes van oor die land heen wys dan hul staal op die volwaardige krieketveld. Die eienaar, Blackie de Swardt, sê benewens dié groot krieket-rondtomtalie met ses spanne aan 'n kant, wat Saterdag plaasvind, is dié krieketklub ook deur die jaar bedrywig. Dié tradisie, wat sy oorsprong in die Boereoorlog gehad het, vind nou al die afgelope 20 jaar plaas met boere van omliggende gebiede wat die spel kom geniet. Die ses-aan-'n-kant toernooi vind vanjaar die tiende keer plaas. Daar is 12 spanne wat deelneem van sover as Johannesburg en Kaapstad. De Swardt sê dit is jaarliks 'n hoogtepunt in dié gebied en daar skort niks met die krieketveld op die plaas nie.
EN
Kommersiële produsente in somerproduksiegebiede beplan om in die 2020-seisoen 'n totaal van 2,5 miljoen hektaar mielies aan te plant. Dit is volgens 'n opname deur die Department van Landbou se Direktoraat, Statistiek en Ekonomiese Analise wat toon dié voorneme is 9,51% meer as die 2,3 miljoen hektaar aangeplante mielies die vorige seisoen. Daarmee saam toon dié opname, wat die situasie in die bedryf weerspieël soos teen middel Oktober, dat produsente beplan om 1,432 miljoen hektaar witmielies aan te plant. Dit is 10,28% meer as die vorige seisoen. Die verwagte aanplantings vir geelmielies is op 1,087 miljoen hektaar, meer as 8,51% teenoor die vorige seisoen.
OFM-nuus
