Agriculture
Landbounuus-podcast: Senwes Toekomsfokus by Nampopark─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:34 Tue, 29 Oct 2019
Senwes bied 'n breë spektrum oplossings aan boere se behoeftes ten opsigte van meganisasie, die nuutste tegnologie en inligting oor die nuutste verwikkelinge in die bedryf.
In dié verband is presisieboerderye 'n uitskieter. Dit is volgens Kobus Geldenhuys, hoof van bemarking en graanverhandeling by Senwes se graanhanteringsafdeling, Grainlink, wat meen tegnologiese veranderinge moet in ag geneem word deur boere om aan die voorpunt van dié bedryf te wees. Hy sê Senwes se gewilde Toekomsfokus by Nampopark, wat vanoggend op Nampopark buite Bothaville begin het, bied die ideale geleentheid daarvoor. Geldenhuys sê dié inligtingsdag, wat deur Senwes in samewerking met die jongboerkomitees van Agri Noordwes en Vrystaat Landbou (VL), asook Graan SA, aangebied word, sluit besprekings in terwyl daar verskeie uitstallers is. Demonstrasies word ook gehou. Hy sê die opkoms is goed. Kaartjies is by die ingangshek teen R100 per persoon beskikbaar.
Daarmee saam sê Hanco Steyn, 'n jong Vrystaatse saaiboer en die voorsitter van die Dealesville-landbouvereniging, hy ondersteun die Senwes Toekomsfokus, omdat hy as boer baie kan leer in die proses. Steyn sê as 'n jongboer probeer hy deurlopend op hoogte bly van onder meer die nuutste beskikbare tegnologie, omdat dit die toekoms is.
EN
Agri SA verwag dat die Minister van Finansies, Tito Mboweni, se mediumtermyn-begrotingsbeleid (MTBPS) voldoende hulpbronne beskikbaar sal stel om die landboubedryf se mededingendheid te verhoog. Daarmee saam moet dit boere in droogte-geteisterde gebiede ondersteun. Hoof van ekonomie en handel by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, Requier Wait, sê die balans tussen die staatsinkomste en -uitgawes is sentraal tot die regering se begroting en die afgelope dekade is deur 'n tendens van lae ekonomiese groei en stygende regeringskuld gekenmerk. Mboweni sal na verwagting Woensdag die beleidstelling aan die Parlement voorlê.
OFM-nuus
