On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Bek-en-klouseer slegte nuus vir uitvoere

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:40 Tue, 12 Nov 2019

Landbounuus-podcast: Bek-en-klouseer slegte nuus vir uitvoere | News Article

Die mees onlangse geval van bek-en-klouseer op 'n kommersiële plaas by Molemole in Limpopo is nie goeie nuus vir die uitvoer van produkte van diere met gesplete hoewe nie.


Dié uitbreking kom nadat bek-en-klouseer in Januarie in die Vhembe-distrik, ook in Limpopo, daartoe bygedra het dat die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid, oftewel die OIE, Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status tydelik opgeskort het. Dr. Pieter Vervoort, uitvoerende direkteur van die Nasionale Dieregesondheidsforum, sê hoewel verskeie lande hul grense intussen vir Suid-Afrikaanse produkte oopgestel het, kan die proses om dié status te herwin dalk langer neem, nadat nog 'n geval verlede week bevestig is. Vervoort sê dit is daarom belangrik dat Suid-Afrikaanse boere nou die noodsaaklikheid van 'n goeie naspeurbaarheidstelsel vir hul vee, asook goeie biosekuriteitstelsels, in plek het. Dít om te verhoed dat siektes in hul kuddes ingebring word.

Daarmee saam sê die Landbousakekamer, Agbiz, se hoof-ekonoom, Wandile Sihlobo, dat Zimbabwe die enigste land is wat 'n verbod op Suid-Afrika se vee en vleis het. Volgens hom is dié buurland egter nie 'n groot mark nie, maar as die verbod na ander lande uitbrei, soos die geval vroeër vanjaar ná die uitbreking van bek-en-klouseer in die Vhembe-distrik in Limpopo, kan Suid-Afrika se handel in veeprodukte negatief geraak word. Dit hou 'n risiko in vir die uitvoer van beesvleis wat jaarliks onder normale omstandighede sowat $140 miljoen (dollar) beloop.

EN

Die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief, Saai, gaan 'n resolusie, wat staatsinstellings oor die wêreld heen wil verbind tot die veiligheid van familieboere, saamstel om in 2020 aan die Verenigde Nasies (VN) voor te lê. Dié landboubelangenetwerk se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, sê dit vorm deel van ’n groter veldtog om misdade teen familieboere deurlopend op die internasionale agenda te plaas. Saai het in Mei vanjaar die bekendstelling van die VN se dekade vir familieboere, van 2019 tot 2028 in Rome, Italië, bygewoon en plaasmoorde en die veiligheid van familieboere is beklemtoon. Volgens hom is familieboere in Suid-Afrika die ruggraat van die samelewing. Verskeie akademici en regslui gaan betrokke wees met die opstel van dié resolusie. Saai beplan ook om in die komende 11 maande verskeie regerings- en landbou-organisasies regoor die wêreld te besoek om steun vir dié resolusie te werf. Dié resolusie is by www.boereresolusie.co.za beskikbaar.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.