On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Klimaatsverandering-taakspan gaan saamgestel word

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 15:12 Wed, 13 Nov 2019

Landbounuus-podcast: Klimaatsverandering-taakspan gaan saamgestel word | News Article

'n Taakspan gaan saamgestel word om die uitdagings van klimaatsverandering en die droogte op die lange duur te bestuur.


Dit is volgens Agri SA se uitvoerende direkteur, Omri van Zyl, nadat dié organisasie vandeesweek op 'n mediakonferensie in Pretoria sy landbou-droogteverslag bekendgestel het. Daar is ook sekere aanbevelings aan die regering en die nasionale ramphulpsentrum gemaak, wat onder meer die samestelling van 'n taakspan insluit. Van Zyl sê Agri SA verteenwoordigers, ander kundiges, die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, asook die nasionale ramphulpsentrum, gaan betrokke wees. Van Zyl sê 'n nasionale ingryping deur die regering is nou nodig, maar daar is talle uitdagings in terme van hulpverlening aan alle boere in die land. Hy sê voedselsekerheid is nou in die gedrang en daar moet primêr daarop gefokus word. Van Zyl moedig gemeenskappe aan om hulp aan landbougemeenskappe te verleen deur middel van skenkings aan Agri SA se droogterampfonds.

Daarmee saam het Agri SA ook 'n rampbestuursforum op die been gebring om landbourampe in Suid-Afrika beter te bestuur. Die koördineerder van dié forum, Willem Symington, sê 'n kundige op dié gebied is ook aangestel en sal in Januarie haar pos beklee om leiding in dié verband te gee. Symington, wat ook die adjunkpresident van Agri Noord-Kaap is, sê die situasie in dié provinsie, asook die Oos-, en Wes-Kaap en Limpopo is kritiek. Dié provinsies moet as rampgebiede in geheel verklaar word in terme van die Nasionale Wet op Rampbestuur.

EN

OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland kan verkry en skenkings kan doen. Geldelike skenkings of ander bydraes kan op dié webtuiste aan bestaande projekte gemaak word. Skakels van organisasies, soos Agri SA se droogtehulpfonds, is op hierdie blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, en kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsteken #LandbouHoop. Deel ook jou droogtehulpprojekte met OFM en stuur 'n e-pos na news@ofm.co.za.


OFM-nuus





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.