On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Geen keer aan Boeredroogtehulp SA nie

───   16:47 Thu, 21 Nov 2019

Landbounuus-podcast: Geen keer aan Boeredroogtehulp SA nie | News Article

Daar is geen keer aan die hulpverleningsorganisasie Boeredroogtehulp SA nie.


Dié organisasie, wat twee jaar gelede deur Chris van Biljon van Rustenburg in Noordwes gestig is, verskaf nou op 'n weeklikse grondslag hulp aan landbougemeenskappe in droogtegeteisterde dele van die land. Van Biljon sê sedert hy twee jaar gelede vir die eerste keer veevoer aan 'n egpaar op 'n plaas in Aberdeen in die Oos-Kaap, geskenk het, kon hy nie ophou om 'n helpende hand aan boere in nood te verleen nie. Van Biljon sê Boeredroogtehulp SA het vandeesweek 'n vrag bale van mieliereste aan agt boere in die Aggeneys-distrik in die Noord-Kaap afgelewer. Hy sê dit is met groot dankbaarheid ontvang in 'n gebied wat soos 'n woestyn lyk weens die vernietigende effek van die voortslepende droogte. Van Biljon sê Boeredroogtehulp SA het ook aan boere in die Pofadder-gebied veevoer afgelewer.

Daarmee saam is 'n boer van die Aggeneys-distrik in die Noord-Kaap, wat 'n skenking van bale mieliereste deur Boeredroogtehulp SA ontvang het, se dankbaarheid groot. Hester Maasdorp, wat op die plaas Zuurwater met Swartkop Dorpers en 'n paar Nguni- en Brahaman-beeste, asook bokke boer, sê sy kan nie die impak van die droogte op hul lewens beskryf nie. Maasdorp sê sy en haar man, Deon, boer saam en moes hul skaap- en beeskuddes aansienlik verklein het om te oorleef. Hulle is platsak en maak staat op Deon, wat by die plaaslike myn werksaam is, se salaris om te oorleef, maar hul kernkudde wat oorgebly het, se voeding is vir hulle 'n prioriteit. Maasdorp sê sonder die hulp van Bo en weldoeners soos Boeredroogtehulp SA se veevoerskenkings is dit haas onmoontlik om te bestaan. Sy sê dit is 'n oorweldigende gevoel en 'n geval van glimlag deur die trane as hulle hulp ontvang. Sy wil nie hê mense moet dink boere staan bakhand en wag vir hulp nie, maar hulle geld is op en die droogtetoestande vererger dit.

EN

Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte wat ten doel het om landbougemeenskappe in droogtegeteisterde dele van die land te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland kan verkry. Geldelike skenkings of ander bydraes kan ook op dié webtuiste aan bestaande projekte gemaak word. Skakels van organisasies, soos Boeredroogtehulp SA, se webtuistes of Facebookblaaie is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsteken #LandbouHoop. Deel ook jou droogtehulpprojekte met OFM en stuur 'n e-pos na news@ofm.co.za of WhatsApp na 084-222-9497.



OFM-nuus



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.