Agriculture
Landbounuus-podcast: Bek-en-klouseer Forum gestig─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:31 Fri, 22 Nov 2019
Die Bek-en-klouseer Forum, waarop verskeie betrokkenes in die rooivleisbedryf dien, is vandeesweek gestig.
Dit kom nadat die lewende hawe afslaershuise, André Kock en Seun, asook Vleissentraal en kommunale boere in Limpopo, 'n vergadering in Bela Bela belê het. Hulle wou meer duidelikheid kry vanaf die Departement van Landbou oor die bek-en-klouseer uitbreking in die Molemole-distriksmunisipaliteit. Paul van Vuuren, direkteur van André Kock en Seun in Limpopo, sê boere van oor die land heen, verteenwoordigers van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), asook die Direkteur-Generaal (DG) van die departement, Michael Mlengana, was byeen. Van Vuuren sê produsente en veral kleinboere het antwoorde gesoek oor die departement se versoek dat alle veilings van lewende hawe in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes tydelik gestaak moet word, terwyl produsente nie daarin geken is nie. Van Vuuren sê dié forum het ten doel om hulp aan die regering te verleen en insae te lewer in 'n poging om die bek-en-klouseer uitbreking so spoedig en doeltreffend moontlik te beheer. Voorleggings gaan ook aan die departement gedoen word.
Die regering sal na verwagting vanoggend sy toekomsplanne oor die voortslepende droogte in groot dele van Suid-Afrika op 'n mediakonferensie in Pretoria bekend maak. Die Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, Lindiwe Sisulu, die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, en die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, gaan die regering se aksieplan bespreek. Dit is in die lig van die droogte wat sedert 2014 in sommige gebiede in die land voorkom. Droogtetoestande het ietwat in sommige gebiede herstel, maar hoë temperature en geen reën in ander dele van die land, vererger die situasie met sekere dele wat reeds as droogterampgebiede verklaar is.
EN
Daarmee saam het die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ivan Meyer, beklemtoon dié bedryf het 'n langtermynplan nodig om volhoubaar in dié provinsie te wees. Meyer was deel van 'n gesprek wat plaasgevind het tussen Agri Wes-Kaap, geldelike instellings, asook landboubesighede, om dié risiko's rondom die provinsiale droogtesituasie te bespreek. Daar is ook koppe bymekaar gesit oor 'n werkbare model vir die bestuur van die voortslepende droogte. Jannie Strydom, Uitvoerende Hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê natuurrampe soos droogtetoestande se negatiewe domino-uitwerking moet pro-aktief bestuur word. Meyer het onder meer ook geld bewillig om 'n langtermynstudie met betrekking tot die invloed van klimaatsverandering op landbou in dié provinsie te doen.
OFM-nuus
