Agriculture
Landbounuus-podcast: Departement stel oorsprong van bek-en-klouseer vas─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:07 Wed, 27 Nov 2019
Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is druk besig om die oorsprong asook die verspreiding van beeste vas te stel, wat positief vir bek-en-klouseer getoets het.
Dit is volgens Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie, oftewel die RPO, nadat dié virussiekte vroeër vandeesmaand in die Molemole munisipale distrik bevestig is. Schutte sê 'n proses van voorwaartse asook terugwaartse opsporing van die vee wat by die Legkraal-veilingsplaas in dié distrik op 'n veiling aangebied is, word nou deur die departement gevolg. Dit word gedoen om vas te stel waar die besmette beeste vandaan kom en waarheen dié diere versprei is. Schutte doen weer 'n beroep op betrokkenes om die beweging van vee asook veilings van lewende hawe in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes tot 'n minimun te beperk. Bek-en-klouseer is 'n hoogs aansteeklike virussiekte wat plaasdiere en wild met gesplete hoewe aantas. Dit word oorgedra deur middel van direkte of indirekte kontak met besmette diere.
EN
Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) het die verwagte kommersiële mielie-oes in sy finale produksieskatting vir somergewasse vir die 2019-seisoen, opwaarts aangepas. Die komitee het Dinsdagmiddag sy skatting bekendgemaak. Die verwagte mielie-oes is 11,258 miljoen ton, wat sowat 0,64%, meer as die vorige skatting van 11,186 miljoen ton is. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,301 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 4,89 ton per hektaar is. Luan van der Walt, 'n landbou-ekonoom van Graan SA (GSA), sê die NOK se verwagte geelmielie-oes, wat op 5,730 miljoen ton is en met sowat 1,27% opwaarts aangepas is van die vorige skatting, is goed en toon dat die verbruik van mielies dié seisoen goed is. Die NOK se produksieskatting vir witmielies is onveranderd gelaat op 5,538 miljoen ton. Die Vrystaat, Noordwes, en Mpumalanga, wat die land se belangrikste mielieproduserende gebiede is, gaan na verwagting 80% van die 2019-oes produseer.
OFM-nuus
