Agriculture
Landbounuus-podcast: Bek-en-klouseer syfers styg─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:12 Fri, 29 Nov 2019
Nóg gevalle van bek-en-klouseer is intussen in die Molemole munisipale gebied in Limpopo bevestig.
Dit kom nadat die nuut-gestigte Bek-en-klouseer Forum verlede week aan OFM-nuus gesê het sowat 20 000 beeste is met dié siekte besmet, terwyl 17 plase geraak word. Dié forum, wat uit verskeie betrokkenes in die rooivleisbedryf bestaan, is onlangs gestig om die nasionale landboudepartement te ondersteun in sy poging om die verdere verspreiding van bek-en-klouseer te verhoed. Paul van Vuuren, direkteur van André Kock en Seun in Limpopo, is die voorsitter van dié forum. Intussen sê Botlhe Modisane, tegniese woordvoerder van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, dié besmette beeste word op plase aangehou en daar is geen besmette diere in kommunale gebiede nie. Hy sê die departement se hoofdoel is om die verspreiding van dieresiektes soos bek-en-klouseer te beheer en daarom het die Minister van Landbou, Thoko Didiza, 'n ernstige versoek aan betrokkenes gerig om veilings van lewende hawe tydelik te staak.
Steeds by die jongste uitbreking van bek-en-klouseer... Dr. Pieter Vervoort, die uitvoerende direkteur van die Nasionale Dieregesondheidsforum, sê die omstrede staking van veilings van lewende hawe in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes, moet in konteks gesien word. Hy sê infeksie van bek-en-klouseer kan maklik tussen besmette en onbesmette diere plaasvind en omdat diere van verskillende bronne by 'n veilingskraal byeen is, hou veilings 'n hoë risiko in. Diere kan vinniger besmet word. Vervoort sê die skou van diere word ook sterk afgeraai. Hy sê veespekulante is nog 'n bron van besmetting, wat 'n hoë risiko inhou vir infeksie en die verspreiding van besmette diere. Volgens hom hou voerkrale ook 'n risiko in, maar die feit dat dié diere hoofsaaklik vir abattoirs bestem is, kom neer op beperkte verspreiding. Dit hou egter groot geldelike verliese vir die voerkraal in. Vervoort sê abattoirs is ook 'n versamelpunt vir diere, maar die risiko is kleiner dat besmette diere na ander plase versprei.
EN
Daarmee saam vra Heinrich Victor, bestuurder van veselbedryf by OVK, dat produsente ernstig moet fokus op biosekuriteit, veral met die jongste uitbreking van bek-en-klouseer. Hy sê hulle moet toesien dat hul vee beskerm is teen aansteeklike siektes. Produsente moet ook verseker dat die dieregesondheidstatus van hul diere en veral hul vee met gesplete hoewe, wat uit ander gebiede aangekoop word, bekend is. Dít in 'n poging om te verhoed dat weerstandige parasiete na siektevrye plase en ander gebiede versprei. Hy sê produsente in droogtegeteisterde gebiede moet ook seker maak hul kuddes se algemene gesondheid en voedingstatus geniet aandag in 'n poging om produksie en reproduksie te optimaliseer.
OFM-nuus
