On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Agri Oos-Kaap distansieer hom van Fritz Joubert

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:52 Tue, 03 Dec 2019

Landbounuus-podcast: Agri Oos-Kaap distansieer hom van Fritz Joubert | News Article

Agri Oos-Kaap het hom gedistansieer van die 45-jarige Fritz "Majeke" Joubert, wat sy vriend, 'n sangoma, op sy plaas naby Oos-Londen vermoor het.


Die voorval waarin Joubert die 40-jarige Anele Hoyana doodgeslaan het, het woede op sosiale media veroorsaak en word as rassisme beskryf. Gruwelike besonderhede is onthul in 'n video wat Joubert op sy Facebook-blad geplaas het, kort voordat hy die naweek deur die polisie doodgeskiet is. Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, sê in teenstelling met wat berig word, was Joubert nie 'n kommersiële boer nie. Stern sê die feit dat daar na hom as 'n boer verwys word, is slegs pogings om produsente, wat probeer om 'n inklusiewe, veilige, en nie-rassige landboubedryf te bou, in 'n slegte lig te plaas.

Droogtehulp SA, in samewerking met die Braaivleisvereniging se braaibroodjie-projek vir boere, het goed afgeloop. Jan Lotz van dié hulpverleningsorganisasie sê mense kon Vrydagaand by die Boeremark in Langenhovenpark in Bloemfontein 'n donasie van hul keuse gee in ruil vir 'n braaibroodjie. Hy sê die gemeenskap het werklik hul harte en beursies oopgemaak om boere in droogtegeteisterde dele van die land geldelik te ondersteun. Volgens hom was daar mense wat slegs 'n donasie gemaak het sonder om 'n braaibroodjie te neem.

OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos  Droogtehulp SA, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop.

EN

Die Provinsiale Uitvoerende Raad van Noordwes, onder leiding van die LUR vir Tesourie, Motlalepula Rosho, en 'n Chinese afvaardiging sal na verwagting vandag in Mahikeng vergader. Dié Chinese afvaardiging is van die Henen-provinsie en besoek Noordwes om hoofsaaklik sleutelkwessies in 'n Memorandum van Verstandhouding tussen dié twee provinsies in die onderskeie lande te bespreek. Dit sluit in die uitbreiding van 'n samewerkingsooreenkoms tussen die Zhengzou-lughawe in China en die Mahikeng Internasionale-lughawe. Daar word ook gefokus om aan studente van Noordwes studiegeleenthede in dié Chinese provinsie te bied, terwyl seminare vir vaardigheidsopleiding vir staatsamptenare en beleggings in die landboubedryf ook bespreek gaan word.  




OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.