Agriculture
Landbounuus-podcast: Reën in Noord-Kaap lig boere se gemoedere─── 11:46 Thu, 12 Dec 2019
Die verspreide voorkoms van reën in sekere gebiede in die Noord-Kaap lig boere se gemoedere.
Dit is volgens Agri Noord-Kaap se president Nicol Jansen nadat dit sedert verlede week kol-kol in dié droogtegeteisterde provinsie gereën het. Jansen het vanoggend op OFM se Big Breakfast-oggendprogram aan Martin van der Merwe gesê boere in gebiede waar dit nog nie gereën het nie, moet vasbyt.
'n Weduwee van Van Wyksvlei in die Noord-Kaap is soos baie ander boere in die diepkant gegooi weens die voortslepende droogte van bykans 'n dekade in dié gebied. Berdien Vos, het boonop haar man, Kobus, aan die dood afgestaan. Hy het 'n jaar gelede sy eie lewe geneem. Vos sê Kobus was siek, en hy het net nie kans gesien vir die droogtetoestande ook nie. Die droogte het hom afgetakel. Sy sê daar was die afgelope jaar baie uitdagings vir boere, en almal wat in 'n diep, donker gat is weens die droogte, is in dieselfde bootjie. Vos sê die voortslepende droogte het haar egter gewys daar is baie goeie mense wat help waar hulle kan. Vos sê sy byt vas tot dit reën, al het sy haar diere op die plaas aansienlik uitgedun omdat daar nie weiding is nie en sy nie duur veevoer kan bekostig nie. Sy het groot planne sodra dit gereën het.
EN
Intussen sê die LUR van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, William Bulwane, die droogtetoestande in dié provinsie was die afgelope jaar 'n groot uitdaging vir boere gewees. Volgens hom het betrokkenes egter vas in hul geloof gestaan. Bulwane besoek Bulgarye vandeesweek om die gradeplegtigheid by te woon van 16 Suid-Afrikaanse studente, wat hul meestersgrade in Plantbeskerming voltooi het.
OFM-nuus/Christal-Lize Muller en Blaine Jones
