On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Departement bevestig oorsprong van bek-en-klouseer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:14 Tue, 17 Dec 2019

Landbounuus-podcast: Departement bevestig  oorsprong van bek-en-klouseer  | News Article

Die Departement van Landbou het bevestig dat bek-en-klouseer onder 'n trop beeste op 'n plaas in die Molemole-distrik in Limpopo geïdentifiseer is.


Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, sê veeartsenykundige dienste is in kennis gestel van kliniese tekens van dié siekte onder hierdie spesifieke beeste. Hy sê die plaas is in 'n vorige bek-en-klouseer-vrye sone geleë. Die oorsprong van die virus word nou bepaal, en of dit moontlik daarheen versprei het. Dié plaas is onder kwarantyn geplaas. Dié uitbreking kom nadat bek-en-klouseer in Januarie vanjaar in die Vhembe-distrik in Limpopo uitgebreek het.

In nog ‘n storie... Agri Noord-Kaap het verskeie projekte van stapel gestuur om droogtehulp aan landbougemeenskappe regoor dié provinsie te verleen. Janine Byleveld, operasionele bedryfsbeampte vir ekonomie, handel, water- en omgewingsake van dié organisasie, sê een van dié projekte, 'Adopt a Dorp', is goed op dreef. Die behoefte van gemeenskappe van 14 dorpe is reeds bepaal en 'n profiel van hul behoeftes word nou saamgestel. Sy sê daar is ook begin om dié profiele aan maatskappye en sakeondernemings, wat hulself beskikbaar gestel het om 'n dorp aan te neem, deur te gee. Daarmee saam probeer dié organisasie nou 'n sisteem op die been bring om die plaaslike ekonomie, wat swaartrek, te ondersteun. Sy sê daar is groot dankbaarheid vir die oorweldigende ondersteuning, en vra weldoeners om indien moontlik, eerder geldelike skenkings te maak. Om geldelike skenkings te maak gaan na OFM se webtuiste en kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry tot 'n lys van organisasies wat hulpverlening verskaf.

EN

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het onderneem dat dié bedryf R1,5 miljard gaan belê om dié bedryf met 10% te laat groei. Dít gaan sowat 7 000 werksgeleenthede skep, indien die uitvoer van Suid-Afrikaanse hoender 'n hupstoot kry. Dié onderneming is gemaak as deel van die bekendstelling van 'n meesterplan vir die pluimveebedryf, wat deur die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, op pres. Cyril Ramaphosa se onlangse beleggingskonferensie in Gauteng aangekondig is. Dié pluimveevereniging se hoofbestuurder, Izaak Breitenbach, sê 'n omvattende ooreenkoms is met dié meesterplan bereik ter bevordering van dié bedryf. Dit sluit verhoogde plaaslike produksie en verbruik van hoenderprodukte in. Breitenbach sê alle betrokkenes, wat invoerders insluit, het ook in dié meesterplan ooreengekom dat alle vorme van storting verhoed moet word. 

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.