Agriculture
Landbounuus-podcast: Die afstel van landbougeleenthede kan ekonomie knou─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:04 Wed, 18 Mar 2020
Die afstel van groot landbougeleenthede op dié bedryf se jaarlikse kalender weens die nasionale verbod op die samekoms van 'n honderd mense en meer, om die verspreiding van die koronavirus te verhoed, kan Suid-Afrika se ekonomie kniehalter.
Dit is volgens die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, wat meen die dienstebedrywe betrokke by dié byeenkomste word die swaarste geraak. Hy sê dit is veral die geval in die platteland waar dié byeenkomste in talle gevalle dié gemeenskappe se hoofbron van inkomste is. Dit het ook 'n negatiewe impak op kleinsake in landelike gebiede. Volgens Laubscher noop dié situasie mense ook om ag te slaan op inligting wat deurgegee word. Dit kom nadat die Bloemskou, wat 'n belangrike landboukomponent bevat en vanaf 24 April tot 2 Mei sou plaasvind, asook die Royal-skou in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal, gekanselleer is. Graan SA het nog nie aangedui of die gewilde Nampo-oesdag, vanaf 12-15 Mei op Nampopark naby Bothaville, wel voortgaan nie.
Daarmee saam is die gesogte Qualité-dinee van vanjaar se Suid-Afrikaanse suiwelkampioenskap weens die nasionale verbod op byeenkomste van meer as 'n honderd mense, afgestel. Die jaarlikse glansgeleentheid van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf sou op Donderdag 26 Maart in Stellenbosch plaasvind. Agri-Expo, die organiseerder van dié dinee, se uitvoernde beampte, Johan Ehlers, sê dié kampioenskap is die grootste suiwelkompetisie in Afrika, maar die feit dat dit afgestel is, plaas nie ‘n demper daarop dat ‘n rekordgetal van 975 suiwelprodukte vanjaar meegeding het nie. Die wenners sal volgende Donderdag in die media en op sosiale media bekendgemaak word.
EN
Die Rooivleisprodusente-organisasie sê in dié stadium het die uitbreking van die coronavirus nie 'n negatiewe uitwerking op die plaaslike bedryf nie en uitvoer gaan ook normaalweg voort. Volgens SABC het die RPO in 'n verklaring gesê hy ondersteun die regering se besluit om 'n nasionale ramp af te kondig, en die maatreëls wat ingestel is om die verpreiding van die siekte te beperk. Die voorsitter van die organisasie, Koos van der Ryst, sê die RPO is deel van 'n tegniese komitee wat deur die minister van Landbou aangestel is om kwessies betreffende die uitbreking en verspreiding van die virus in die landbousektor te hanteer. Hy sê rooivleisprodusente sal saamwerk om die verspreiding te bekamp.
OFM-nuus
