On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Landbou LUR besoek VS boer ná plaasaanval

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:07 Wed, 01 Apr 2020

Landbounuus-podcast: Landbou LUR besoek VS boer ná plaasaanval | News Article

'n Boer van die Soutpan-gebied in die Vrystaat is dankbaar vir die departement van landbou en landelike ontwikkeling se ondersteuning nadat sy op haar plaas aangeval is.


William Bulwane, LUR vir Landbou, en die waarnemende hoof van die departement, Takisi Masiteng, het  Mimie Jacobs wat op haar plaas met messe aangeval en beroof is, Dinsdag besoek. Zimasa Leputla, woordvoerder van die departement, sê Bulwane het ook ontsmettingsmiddels aan Jacobs oorhandig as deel van die departement se ondersteuning aan landbougemeenskappe in die provinsie wat 'n noodsaaklike diens lewer tydens die nasionale inperking.  Bulwane het ook aangedui hy is bewus van 'n boer van die Harrismith-distrik wat in 'n private hospitaal weens Covid-19 opgeneem is.

Die kredietgraderingsagentskap, Moody's, se besluit om Suid-Afrika se beleggingstatus tot volle rommelstatus af te gradeer kan plaaslik 'n impak op die landboubedryf hê. Dit is volgens dr. Kobus Laubscher, 'n landbou-ekonoom, wat meen beleggersvertroue in die algemeen in dié bedryf kan negatief geraak word. Hy sê  Suid-Afrika is nou verwyder van die spektrum van lande wat  as beleggingsveilig beskou word. Volgens hom kan dit ook 'n  impak op die wisselkoers en die koste van kapitaal hê. Laubscher sê wat die land in geheel betref, kan die afgradering die fiskale vermoë van die land inperk en sal daar anders gelet moet word op waar kapitaal vandaan gaan kom, veral betreffende die herbouproses.

EN

Die Suid-Afrikaanse mededingingskommissie het sedert die begin van die 21-dae nasionale inperking al altesaam 559 klagtes van buitensporige prysverhogings van produkte ontvang. Dit nadat die minister van handel en nywerheid,  Ebrahim Patel, verskeie regulasies ingestel het ná die aankondiging van die inperkingsperiode om maatskappye in staat te stel om wettiglik saam te werk. Sipho Ngwena, hoof van kommunikasie by die departement, sê die klagtes is teen kleinhandelaars en verskaffers wat  buitensporige pryse  vir produkte met betrekking tot Covid-19, hef. Die meerderheid van die klagte hou verband met ontsmettingsmiddels, gesigmaskers, toiletpapier, en griepmedisyne. Hy sê die kommissie prioritiseer nou die klagtes en nasionale kleinhandelaars en verskaffers het 48-uur om daarop te reageer. Volgens Ngwena het die kommissie ook met kommer kennis geneem van die stygende prys van landbougewasse soos  koring, witmielies, sonneblomsaad, wortels, uie en tamaties. Hierdie pryse word nou gemonitor in oorleg met ander belanghebbendes in die beleidsfeer.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.